NWU-navorsers kry rojale superrekenaartyd
Twee personeellede van die Sentrum vir Ruimtenavorsing aan die Noordwes-Universiteit, wat navorsing oor skokke in Aktiewe Galaksieë doen, het 50 miljoen verwerkingsure op ’n superrekenaar by die Gauss-superrekenaarsentrum in Duitsland losgeslaan. Prof Felix Spanier en dr Patrick Kilian van die NWU en hulle Duitse vennote, prof Reinhard Schlickeiser en dr Anne Stockem van die Ruhr-Universiteit …

Twee personeellede van die Sentrum vir Ruimtenavorsing aan die Noordwes-Universiteit, wat navorsing oor skokke in Aktiewe Galaksieë doen, het 50 miljoen verwerkingsure op ’n superrekenaar by die Gauss-superrekenaarsentrum in Duitsland losgeslaan.
Prof Felix Spanier en dr Patrick Kilian van die NWU en hulle Duitse vennote, prof Reinhard Schlickeiser en dr Anne Stockem van die Ruhr-Universiteit in Bochum, het vir hulle superrekenaarprojek aansoek gedoen sodat hulle spuitstrale in Aktiewe Galaktiese Nukleï (AGN) kan bestudeer.
Spanier sê hierdie aansienlike hoeveelheid rekentyd kan met 1 426 jaar se werk op ’n tipiese moderne persoonlike kantoorrekenaar vergelyk word. Die Gauss-superrekenaarsentrum, waar van die wêreld se vinnigste superrekensentrums kragte saamgesnoer het, is ’n Europese inisiatief. Hy is 23ste op die lys van die wêreld se vinnigste superrekenaars.

“Mededinging vir hierdie hulpbronne is baie straf. Ons moes werklik baie oortuigende redes vir ons behoefte aan rekentyd aanvoer,” sê Spanier. “Die rekenhulpbronne wat ’n mens vir hierdie projek nodig het, oorskry alles wat enige universiteit kan voorsien. Hierdie hoeveelheid rekentyd sal in die vrye mark R25 miljoen kos.”

Spanier en Kilian het wêreldwyd ’n indrukwekkende prestasierekord van suksesvolle superrekenprojekte. “Ons gebruik tans meer as 10 miljoen sentrale verwerkereenheid‑ (SVE-)uur per jaar,” verduidelik Kilian.
Volgens Spanier is AGN’e kerne in verafgeleë sterrestelsels, met ’n energielewering wat hoër as ’n volledige sterrestelsel is. “Hulle is baie interessante voorwerpe aangesien hulle waargeneem kan word ondanks hulle afstand teen baie hoë energieë.
“Die energie wat ’n AGN vrystel, is tipies in ’n spuitstraal gebondel wat uit ’n swartgat/gravitasiekolk vrygestel word. Hierdie spuitstraal toon ‘kolle’ (groot plasmahompe) en ‘knobbels’ (digtheidsversterkings in die spuitstraal).
“Die voor-die-hand-liggende vraag is nou, wat gebeur wanneer hierdie hompe teen mekaar bots?”
Hy sê die bestudering van hierdie vraag is inderdaad baie ingewikkelder as wat dit op die oog af lyk, aangesien hierdie spuitstrale in wese niks in gemeen het met fisika wat mense in die alledaagse lewe teëkom nie. “Hulle bestaan uit ’n ongelooflike dun, heeltemal geïoniseerde gas wat deur magneetvelde in fatsoen gehou word. Hierdie gas, plasma genoem, is nie net uiters warm nie, maar bevat ook partikels met energieë wat buite ons denkvermoë is.”
Spanier sê hulle span gebruik nou die partikel-in-selmetode om hierdie spuitstrale te simuleer. Gelaaide partikels word gesimuleer om elektriese en magneetvelde te produseer wat, op hulle beurt, op die partikels reageer. “Hierdie benadering is baie handig vir rekenaarsimulasies omdat dit maklik in werking gestel kan word en goed verstaan word.”



