Eleazer goudmyn – ‘n groot kopseer vir boere
’n Myn wat tans opgerig word op die Eleazer-plaas naby Potchefstroom, is ’n groot kopseer vir die boere van die omliggende plase.
’n Myn wat tans opgerig word op die Eleazer-plaas naby Potchefstroom, is ’n groot kopseer vir die boere van die omliggende plase. Susan Cilliers van ons susterskoerant Beeld, het in die Herald van 21 Julie berig oor ’n goudmyn wat op dié plaas opgerig is, sonder dat die regte prosedure glo gevolg is.
Die stuk grond is in 2009 aan die Tlokwe Stadsraad gegee met die doel om kleinskaalveeboere van weiding te voorsien, maar daar word reeds op die plaas gemyn.
Nie net is die Stadsraad besig met ondersoeke aangaande die mynaktiwiteite op die plaas nie, maar die Potchefstroom se Boerevereniging is ook besig met hul eie ondersoeke aangesien dié mynbedryf probleme vir hulle boerderye veroorsaak.
Volgens Christo de Wet, ondervoorsitter van die Potchefstroom se Boerevereniging, was die boere in die area nie in kennis gestel dat daar mynaktiwiteite op die plaas gaan begin nie. Hy sê daar was ’n poging aangewend om een van die aangrensende eienaars, Danie Barnard, te nader, maar sonder om ’n afspraak te maak. “Verder het daar geen konsultasies met enige van die ander aangrensende eienaars plaasgevind nie,” sê hy.
Barnard was ook die eerste boer wat uitgevind het van die mynaktiwiteite omdat die werkers sy draad geknip het om op sy grond te gaan myn. “Ons het letterlik hiervan uitgevind toe die masjinerie begin opdaag het en hulle begin myn het,” sê De Wet. Nadat Barnard ’n klag gaan lê het by die polisie het die mynwerkers van sy grond af onttrek.
Die groot kopseer op die stadium vir die aangrensende boere is die baie stof wat deur die vragmotors veroorsaak word. “Die paaie is nie gemaak vir al daardie swaar verkeer nie,” sê hy. “Die stof gaan lê op gras wat dit onsmaaklik maak vir diere om te eet en te veel stof in die lug veroorsaak respiratoriese probleme,” sê hy.
Daar word sowat vyf eienaars op die Eleazer-pad geraak deur die verskriklike stof wat deur die myn veroorsaak word. De Wet sê hulle het die probleem aangemeld by Departement van Mineraal Hulpbronne (DMR) en daar is vir die betrokke partye gesê om die stof op die paaie te reguleer. Die Boerevereniging is nou besig om die probleem in hul eie hande te neem en is in die proses om al die dokumentasie van die DMR noukeurig deur te gaan om seker te maak alle prosedures is gevolg. “Volgens DMR is hulle tevrede met alles en was daar ook genoeg publieke samewerking.
Hulle sê ook dat daar ’n vergadering in Stilfontein gehou is en daar was iemand teenwoordig wat blykbaar alle boere verteenwoordig – ons stem nie daarmee saam nie,” sê De Wet. De Wet sê dat die dokumente en lisensies in plek is om te mag myn, maar hulle ondersoek nog of die regte prosedures gevolg is. “Ons is op die oomblik nog besig om deur die dokumente te werk, ons het dit onlangs eers gekry” sê hy.
Woordvoerder van die Stadsraad, Willie Maphosa sê dat die kwessie van die Eleazer-plaas en die mynaktiwiteite daar ’n hangende saak is wat die munisipaliteit deur hul regsverteenwoordigers hanteer.
Teen druktyd het die Herald nog nie kommentaar van die DMR ontvang nie.



