Al my drome dat Aiden die volgende Springbok losskakel of die ster middelveldspeler vir Bafana Bafana gaan wees, is stadig besig om te verdwyn.
Ek probeer tevergeefs vandat hy kan loop dat hy ‘n rugbybal vang of ‘n sokkerbal vir my terugskop. Ek het myself aan die begin getroos dat hy mettertyd saam sal bal skop. Tog begin ek meer en meer agterkom dat elke keer as ons begin bal skop, gaan haal hy ’n stok of speelgoedhamer en begin die bal rondslaan.
Dit gaan so aan totdat hy ’n kleiner bal sien wat meer gepas is vir die aksie wat hy nou wil uitvoer. Dan begin hy met die klein bal en los my met die sokker/rugbybal om op my eie te speel.
Die engste gevolgtrekking wat ek in die stadium kan maak, is dat hy dan meer belangstel in krieket of gholf.
Eers was dit vir my erg, omdat ek so min van beide die sporte weet. Hoe meer ek daaraan begin dink het, hoe beter het die gedagte geword. As hy belangstel in gholf, dan gaan hy seker die volgende Ernie Els wees.



