
Die publiek word gewaarsku om versigtig te wees, nadat ‘n vlaag rooftogte die afgelope tyd op die N12 plaasgevind het.
Tussen 24 en 27 Augustus is daar drie rooftogte op die N12 by die polisie aangemeld.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het ’n trokdrywer op 24 Augustus omstreeks 17:00 langs die pad gestop om te rus. Twee rowers het die trok se deure oopgepluk en hom met ’n vuurwapen gedreig. Hulle het sy beursie en kontant geëis en gevlug.
Op 26 Augustus omstreeks 23:50 het ‘n ryloper in Nelson Mandelarylaan in ’n voertuig geklim wat hy gemeen het ‘n ryloop-geleentheid is. Die bestuurder van die voertuig het gesê hy is op pad na Sebokeng.
’n Entjie verder op die N12 voor die Vereeniging-afrit, het die bestuurder die voertuig gestop.
’n Ander passasier het die ryloper met ’n vuurwapen gedreig en al sy besittings geëis. Hulle het die ryloper uit die voertuig gegooi en langs die pad gelos.
Op 27 Augustus omstreeks 07:00 het ’n man op die N12 langs die pad gestop om te urineer. ’n Rower het stilgehou en die sleutels uit die man se bakkie gegryp. Die man is daarna aangerand en van geld beroof. Chaka het inwoners gewaarsku om baie versigtig te wees, om nie onnodig stil te hou nie en nie saam met vreemdes in ’n voertuig te klim nie.



