Die Noordwes-Universiteit en Aardklop het onlangs ʼn samewerkingsooreenkoms onderteken waarvolgens die NWU vir die 19de agtereenvolgende jaar ʼn gasheerborg vir die Aardklop Nasionale Kunstefees sal wees.
Die NWU se Potchefstroomkampus stel vanjaar weer sy fasiliteite en infrastruktuur gratis tot beskikking van die fees en die NWU ondersteun ook die fees finansieel.
Tydens ʼn Aardklop-direksievergadering hierdie week, het die voorsitter, mnr. Dewald van Breda, die NWU bedank vir hulle volgehoue en lojale ondersteuning. “Aardklop sou glad nie sonder die samewerking, hulp en ondersteuning van die NWU kon bestaan nie,” het van Breda gesê. “Die Aardklop-direksie en die breë kunstegemeenskap het groot waardering vir die NWU se volgehoue betrokkenheid by die fees en die kunste.”
Aardklop vind vanaf 4 tot 9 Oktober plaas en die feesterrein skuif weer terug na Cachetpark op die Bult. Kaartjies vir die opwindende feesprogram is reeds by Computicket beskikbaar. Weekkaartjies vir toegang tot die feesterrein is ook steeds beskikbaar by die Aardklopkantore in Molenstraat 69.
Vir meer inligting oor die fees besoek gerus www.potchfees.co.za.



