NewsNews

Minder as ‘n maand oor tot Aardklop

Daar is nog net 24 dae oor voor die nuwe Aardklop aanbreek.

Daar is nog net 24 dae oor voor die nuwe Aardklop aanbreek.
Die fees, wat van 4 tot 9 Oktober plaasvind, gaan weer op die ou Aardklopterrein oorkant die Bult-sakekern wees.
Nie net is Aardklop terug op die Bult nie, maar terreinkaartjies is weer heeltemal bekostigbaar. Kaartjieverkope verloop ook baie goed en het veral hierdie week toegeneem.
“Ek dink mense het besef daar is net ’n maand oor voor Aardklop en het toe skielik begin kaartjies koop,” sê ’n baie opgewonde feesbestuurder, Alexa Strachan.
Talle kaartjies vir die verskillende produksies wat vanjaar by Aardklop plaasvind is reeds verkoop en volgens Anne-Mari Raath (Aardklop: borge en logistieke), het kaartjieverkope skielik die week begin toeneem.
Strachan sê dat hoewel daar nog werk is om te doen, is die Aardklop-komitee baie opgewonde en verloop alles sover glad. Hulle is ook op skedule met al die reëlings.
“Ek voel soos Usain Bolt – hy begin ’n resies altyd stadig, maar dan haal hy almal voor hom in. Ek moet ook nog ’n paar dinge verbysteek, maar ek weet ek gaan wen,” sê sy.
Volgens haar doen die groot konserte wat in die Sanlam Ouditorium plaasvind baie goed. Dit sluit in Karen Zoid, Elvis Blue en Bobby van Jaarsveld.
Daar is ook groot musiekblyspele waarvoor daar reeds baie kaartjies verkoop is. “Ek glo dit is omdat mense besef dat hulle nie hierdie groot vertonings sommer op elke tweede dorp sal kan sien nie, so hulle wil nie die kans waag om dit mis te loop nie,” sê sy.
Kaartjies vir produksies kan aanlyn gekoop word by www.computicket.com of by Aardklop se kantore te Mölenstraat 69. Die Aardklop personeel is ook baie opgewonde oor die tempo waarteen stalletjies en akkommodasie bespreek word.
Aardklop nooi plaaslike entrepreneurs en handelaars om aansoek te doen vir ’n stalletjie by die fees, veral omdat hulle die Potchefstroom gemeenskap se unieke kreatiwiteit en vaardighede na vore wil bring. Daar is beperkte ruimte, so uitstallers moet gou aansoek doen deur ’n e-pos te stuur na stalletjies@potchfees.co.za.
Volgens die jongste akkommodasie syfers is 90 persent van die NWU akkommodasie, 80 persent van die gastehuise en B&B’s en 70 persent selfsorg akkommodasie wat met Aardklop verbind is, reeds volbespreek. Akkommodasie moontlikhede kan gesien word op www.potchfees.co.za
Aardklop sal ook gebruik maak van lede van die gemeenskapsprojek, Team up, Clean up tydens die fees om seker te maak die Bult bly skoon en netjies. Ingang tot die feesterrein beloop R20 per dag of ’n weekkaartjie kan gekoop word teen R60.
“Ons is almal baie opgewonde oor Aardklop en ek sien Potchefstromers raak ook al meer opgewonde, hoe nader ons aan Aardklop kom,” sê Strachan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button