‘n Groepie van Potchefstroom se jongste entrepreneurs het op 17 Augustus hul eerste mini-mark gehou waar hulle produkte kon verkoop en hul besighede kon bemark.
Die groep wat bestaan uit 11 kinders tussen die ouderdom van 5 tot 12 jaar, het aan die begin van die jaar aangesluit by Susan Fouché se entrepreneursprogram.
Susan het verlede jaar begin deur haar eie kinders basiese besigheidsvaardighede aan te leer sodat hulle hul eie besighede kan begin en kan leer hoe om effektief met hul geld te werk. Susan se seun, Janu Fouché het verlede jaar eerste gekom in die Young Entrepreneur kompetisie met sy bordspeletjie Young Entrepreneur Emporium. Hy was toe in graad 8.
Susan leer nou ‘n groepie van 11 kinders hoe om hul geld te spaar, hoe om hul eie besighede te bedryf, die verskillende aspekte van die besigheidsplan, verpakking, bemarking en hoe om planne te maak en nuwe dinge uit te dink. Sussies Tizel (10) en Sichel (8) Peens maak serpies om te verkoop. Tizel sê dit is lekker om met jou geld te kan werk en Sichel geniet dit om die produkte te maak.
Helen (10) en Ebert (12) Jonker is ook twee jong entrepreneurs. Waar Helen haar eie skilderye skilder en verkoop, maak Ebert weer lekker eetgoed. Ebert sê dit is vir hom lekker om te sien hoe mense hul produkte geniet.
Op 2 November gaan die laaste mini-mark van die jaar wees. Skakel Susan by 082 048 6309 om meer hiervan uit te vind.



