
Klas- en koshuisgelde by die Noordwes-Universiteit (NWU) sal in 2017 met 8% styg.
Volgens Elmarie de Beer, uitvoerende direkteur: finansies en fasiliteite, geld die verhoging nie vir studente wat vir die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) kwalifiseer nie.
Studente wie se huishoudelike inkomste meer as die NSFAS-drempel, maar minder as R600 000 per jaar is, word ook nie deur die verhoging geraak nie. Die aansoekproses vir die sogenaamde “vergete middel-studente” sal binnekort in ’n aparte kennisgewing oorgedra word, sê De Beer.
Die regering sal die goedgekeurde verhoging in die vorm van ’n toelae (die sogenaamde gapingsbefondsing) aan die universiteit uitbetaal, wat as ’n krediet in hierdie studente se rekening sal wys.
De Beer sê studente met beurse wat alle uitgawes dek, asook studente wie se huishoudelike inkomste meer as R600 000 is, sal nie vir die gapingsbefondsing kwalifiseer nie.
Internasionale studente, ook dié van Suider-Afrikaanse Ontwikkelingslande, kwalifiseer ook nie hiervoor nie.
Studente wat om watter finansiële rede ook al nie kon registreer nie, sal individueel op elk van die drie kampusse in Potchefstroom, Vanderbijlpark en Mahikeng gëevalueer word.
Volgens De Beer sal daar dan op meriete besluit word hoe dié studente gehelp kan word met beskikbare geld, sodat soveel moontlik akademies verdienstelike, maar behoeftige studente wel kan registreer.
“Ons het begrip vir ons studente se kommer oor onbekostigbare studiegelde, maar die NWU, soos enige ander instelling, moet finansieel volhoubaar bly om met ons kernonderneming voort te kan gaan en ’n nasionale bate te bly,” sê De Beer.
“Hierdie kernonderneming behels die lewering van toonaangewende navorsing en gehalte-onderrig terwyl die lewens van ons studente gevorm word om te verseker dat ons goeie, gebalanseerde graduandi oplewer.”
Alle studente sal, soos in die verlede, registrasie en minimum betaalbare gelde met registrasie by die NWU moet betaal.
Studente wat deur ander goedgekeurde borge gefinansier word of lenings het, sal van hierdie betalings vrygestel word, mits hulle stawende dokumentasie voorlê.
“Waar ’n uitstaande bedrag vir die vorige jaar betaalbaar is, sal studente toegelaat word om te registreer as die beursverskaffers skriftelik onderneem om die uitstaande bedrag ook te betaal,” sê De Beer.



