‘n Gebarste pyp het veroorsaak dat duisende liter water in Paryslaan afgeloop het.
Volgens inwoners in die omgewing is die lekkasie al Dinsdagoggend (22 November) omstreeks 06:00 aan die munisipaliteit gerapporteer.
Toe die Herald teen omstreeks 14:00 daar was, was die pyp steeds nie herstel nie.
Die watertoevoer in die omgewing was ook nie afgesny nie en die gevolg was dat water vir langer as sewe ure gelek en in die pad afgeloop het.
Inwoners is veral beswaard omdat waterbeperkings steeds in Potchefstroom geld en die munisipaliteit inwoners in Februarie gewaarsku het dat hulle beboet sal word indien daar nie by die beperkings gehou word nie. Volgens Fienie Jacobs, wat reg voor die gebarste pyp woon, het die grond onder die plaveisel op die sypaadjie al begin wegspoel. “Dit is gevaarlik, maar elke keer as ons die munisipaliteit skakel, sê hulle hulle is bewus van die probleem, maar dat dit nie ‘n noodgeval is nie.” Mooirivier Beskerming het van vroeg af op die toneel gestaan om seker te maak dat die area veilig is waar die grond weggespoel is.

Die Herald het verskeie oproepe ontvang van ontstoke inwoners wat al die munisipaliteit geskakel het.
Een inwoner het gevra hoe die munisipaliteit hom wil beboet as hulle so lank neem om sulke groot lekkasies reg te maak.
Volgens Chris Landsberg, DA Koukusleier, Tlokwe (NW405), is die raad se water en elektriese verspreidingsverliese vir die 2015/2016 jaar om en by R45 miljoen.
“Die raad het nie genoeg personeel om die talle lekkasies te herstel wanneer dit ontstaan nie.
Daar gaan nie ‘n dag verby sonder nuwe waterlekkasies nie.
Die loodgieters moes gister twee ander hooflynlekke herstel voordat hulle kon aandag gee aan Paryslaan,” het Landsberg gesê.
Volgens hom is munisipaliteite verplig om 8% van hulle bedryfsbegroting te gebruik vir onderhoud van infrastruktuur.
“Potchefstroom/Tlokwe haal nie naasteby dié syfer nie.
“Ons weet ook nie wat die situasie in Ventersdorp is nie,” sê hy.
Teen druktyd het die munisipaliteit nie reageer op die Herald se versoek op kommentaar nie.



