Beste matriek-leerder begin nou nuwe hoofstuk by Puk
Oud-Volkie en toekomstige geoktrooieerde rekenmeester, Luné Smit, het nie net haar naam in Potchefstroom gemaak deur die beste matriekleerling in die vakgroep rekeningkunde te wees nie, maar is ook vanjaar se top matriek-leerder in Noordwes, met sewe onderskeidings en ‘n gemiddeld van 95%.
Oud-Volkie en toekomstige geoktrooieerde rekenmeester, Luné Smit, het nie net haar naam in Potchefstroom gemaak deur die beste matriekleerling in die vakgroep rekeningkunde te wees nie, maar is ook vanjaar se top matriek-leerder in Noordwes, met sewe onderskeidings en ‘n gemiddeld van 95%.
Luné het onderskeidings behaal in Afrikaans huistaal, Engels addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, ekonomie, geskiedenis en rekeningkunde, waarin sy ‘n uitmuntende 100% behaal het.
Luné het Saterdag 14 Januarie ‘n nuwe hoofstuk in haar lewe begin en aangesluit by duisende ander eerstejaars in hul besluit om ‘n NWU-Puk te word.
Sy gaan vroeg in Februarie met haar studies as GR (geoktrooieerde rekenmeester) begin. Sy stres nog nie daaroor nie, maar sê dat sy heel moontlik nader aan die tyd ‘n kol op haar maag sal kry. Hoewel dit ‘n moeilike en veeleisende kursus is, dink Luné dat sy wel voorbereid is vir dit wat kom. Sy voel ook dat haar harde werk op skool haar voorberei het vir haar tyd op universiteit.
“Ek het op skool maar net hard gewerk want ek het gevoel dat ek die beste wil doen wat ek kan.”
Sy is nou ‘n inwoner van Heide dameskoshuis en hoewel sy die enigste Volkie in die koshuis is, het sy reeds baie vriendinne gemaak. “Die meisies hier is gemaklik en lekker mense om mee te kuier,” sê sy. “Ek dink dit gaan moeilik wees om myself te vestig in ‘n vriendekring, want hier is so baie meisies met wie ek dink ek goeie vriende wil word.”
Sy beplan ook om aan sport deel te neem en wil netbal speel vir haar koshuis. Verder gaan sy in verskeie komitees dien omdat sy deel wil wees en haar koshuislewe op kampus ten volle wil geniet. “Dis heeltyd op en af hardloop, maar dis baie lekker,” sê sy.
Haar advies vir leerders wat ook baie goed wil doen, is dat elkeen sy eie manier het om te leer. Sodra jy jou unieke manier aangeneem het, behoort jy maklik te kan leer. “Nie almal hoef twee weke voor ‘n toets te begin leer nie. As jy weet dat jy beter doen onder druk, leer dan so.” Sy sê dit is belangrik om balans te handhaaf tussen jou studies en sosiale lewe en om nie dag in en dag uit net te leer nie. Luné bedank haar gesin, koshuismaats op skool, sowel as haar Volkie onderwysers vir hul ondersteuning deur haar hoërskoolloopbaan. Sy sien haarself oor 10 jaar as die bestuurder van haar afdeling in ‘n gevestigde ouditeursfirma, maar glo dat haar familie altyd eerste sal kom.
“As ek kyk na wat ek nou alles het, was al my harde werk op skool die moeite werd.”



