Die Puk-kampus het op Saterdag 14 Januarie uit sy nate gebars met meer eerstejaars as van tevore.
Sowat 6 500 voornemende eerstejaarstudente met hul gesinne het die kampus binnegestroom met groot opwinding en drome vir die toekoms.

Die hele amfiteater, ouditorium en alumni-saal was propvol nat-agter-die-ore studente wat saam met hul ouers in afwagting sit en luister het na hoe hulle ook nou ‘n deel van die Pukke-kultuur gaan word.
Talle mense het nie sitplek gekry nie, maar niemand het gekla nie, want net om daar te kon wees was vir hulle ‘n baie groot voorreg.

Die Puk kry elke jaar meer as 18 000 aansoeke, maar daar is net plek vir 4 379 eerstejaars. Duisende aansoeke moet weggewys word. Elke jaar word egter meer eerstejaars aanvaar as wat die Puk kan akkommodeer, omdat daar gewoonlik sowat 40% van die aansoeke voor registrasie wegval.


Van hulle is omdat hulle dalk nie vir die kursus in aanmerking gekom het nie, of van hulle kies ander universiteite om aan te studeer – vanjaar was daar nie sulke gevalle nie.
Daar is tans 6 538 eerstejaars toegelaat en hoewel die getalle eers na registrasie gefinaliseer kan word, gaan die Puk heel moontlik sowat 40% te veel eerstejaars in 2017 hê. Dit kan dalk ruimte-probleme tydens die eerste paar weke van klas in lesingslokale veroorsaak.


Die kampusrektor, prof. Fika Janse van Rensburg, het gevra dat studente wat dalk op trappe sal moet sit, dit vir eers verdra, want dit is tog soveel beter as om glad nie by ‘n universiteit te wees nie.
“Kom ons wees saam dankbaar dat die universiteit jou wel toegelaat het en nie die trappies-sit as rede gebruik het om jou toelating te weier nie,” sê hy.
Prof. Fika, sowel as die visekanselier van die NWU, prof. Dan Kgwadi, het eerstejaars verseker dat hulle geen onrus op die Puk-kampus sal toelaat nie.
“Ek wil julle verseker dat die stabiliteit van ons kampusse van kardinale belang is. Ons het verlede jaar se akademiese program suksesvol voltooi en sal alles in ons vermoë doen om hierdie prestasie te herhaal,” sê prof. Kgwadi.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/video_of_the_day/video-nwu-pukke-verwelkom-eerstejaars/








