‘n Vrou beweer ’n raadslid haar met die opening van ’n nuwe skool in Promosa, B Choabi Primary, aangerand en sy ’n beskermingsbevel teen hom het.
Volgens Maria Jonkers was sy die skakelbeampte tussen die konstruksiemaatskappy wat die skool gebou het en die gemeenskap. Sy het die gemeenskap deurgaans op hoogte gehou oor die vordering met die skool.
“My kontrak het in Desember 2016 verstryk, maar ek het besluit om steeds navrae oor die skool te probeer beantwoord,” vertel Jonkers.
Teen 10 Januarie, die dag voor die skool moes begin, het Jonkers nog baie navrae gekry van ouers wat nie seker was of die skool gaan open nie. Volgens haar het sy self na die onderwysdepartement se area-kantoor gegaan om uit te vind wat die stand van sake is. Hier het die departement vir haar ’n lys gegee om name te kry van mense wat plek vir hulle kinders by die skool soek.
“Ek het dit gedoen om die departement en die gemeenskap te help. Hulle wou eintlik net getalle gehad het,” verduidelik sy.
Die dag wat die skole begin het, het Jonkers begin om ’n lys van name bymekaar te maak. Die wyksraadslid, mnr. Calvin Johnson, was ook by die opening van die skool.
“Hy het vir my gevra waarom ek besig is om kinders in te skryf vir die skool. Hy het begin skree dat ek nie die reg het om dit te doen nie en dat ek nie kwalifikasies het nie. Ek het aan hom probeer verduidelik dat die departement my gevra het om die lys bymekaar te kry. Hy het nie na my geluister nie en my knipbord uit my hand geklap. Hy het my teen my bors gestamp,” sê Jonkers.
Jonkers het die burgemeester vertel wat gebeur het, wat volgens haar niks aan die saak gedoen het nie.
“Ek voel my menseregte is aangetas, en niemand gee om nie,” vertel sy. Sy het dieselfde dag ’n klag by die Ikageng polisiestasie gaan lê, waarna sy ook ’n beskermingsbevel teen Johnson by die hof gekry het.
Victor Boqo, woordvoerder van die burgemeester, het die vrou se klag bevestig, maar sê dat die burgemeester vir Jonker verduidelik het dat sy die polisie moet nader indien sy voel dat haar menseregte geskend is.
Calvin Johnson, wyksraadslid het die aantygings ten sterkte ontken.
“Ek het nie aan haar geraak nie, ek het net vir haar gesê dat sy nie van die departement is nie daarom moet sy ophou om kinders in te skryf. Ek wou hê die mense moet met waardigheid hanteer word,” vertel Johnson. Hy het aangedui dat hy regstappe teen Jonkers oorweeg.



