
’n Man is Sondagoggend omstreeks 09:00 van sy bankkaart en R4 000 beroof toe hy by ’n OTM in Steve Bikostraat wou geld trek.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die verdagte die man genader onder die voorwendsel dat hy hom by die OTM kan help.
“Hy het ’n hemp aangehad met die embleem van die betrokke bank op,” het Manyoba gesê.
Die man het dus gedink dat die verdagte vir die betrokke bank werk en dit veilig geag om sy kaart aan hom te oorhandig. Die verdagte het dit in die OTM-masjien gedruk. Die man het sy geheime kode (pinkode) ingesleutel, maar niks het gebeur nie. Die verdagte het verdwyn sonder om die man se kaart aan hom terug te besorg. Hy het na die verdagte begin soek, maar kon hom nêrens kry nie.
Hy het in die bank navraag gedoen, waar daar aan hom gesê is dat niemand buite aangestel is om die publiek te help nie. Die man het gevra dat die bank dadelik sy kaart stop.
“In die tydperk wat hy gewag het dat sy kaart gestop word, is R4 000 reeds uit sy rekening onttrek,” verduidelik Manyoba.
’n Saak van diefstal word ondersoek.



