Rektor toon sy steun vir orgaanskenking
Orgaanskenkers is helde en hulle onbaatsugtige opoffering sal talle mense se lewens red. Een van hierdie mense is Potchefstromer, Martie Geertsema van Meds4Martie, wat dringend nuwe longe nodig het om ‘n vol lewe te kan lei. Die Herald het verlede jaar oor Martie berig wat pulmonêre hipertensie het, ‘n seldsame siekte wat die hart en …
Orgaanskenkers is helde en hulle onbaatsugtige opoffering sal talle mense se lewens red.
Een van hierdie mense is Potchefstromer, Martie Geertsema van Meds4Martie, wat dringend nuwe longe nodig het om ‘n vol lewe te kan lei. Die Herald het verlede jaar oor Martie berig wat pulmonêre hipertensie het, ‘n seldsame siekte wat die hart en longe aantas.
Martie moet duur medikasie gebruik en ‘n neuspyp dra om te kan asemhaal.
Met die samewerking van die NWU Pukke is daar nou weer nuwe hoop vir Martie, nadat ‘n baie suksesvolle orgaanskenkersveldtog in samewerking met Tissue Donation SA, Organ Donor Foundation SA en PUKfm laasweek tydens JOOL geloods is. Die rektor van die Potchefstroom kampus, prof. Fika Janse van Rensburg, het die veldtog ook heelhartig ondersteun toe hy amptelik as orgaanskenker geregistreer het.
Hy het ook studente op die Puk en die hele land aangemoedig om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak deur middel van orgaanskenking.
PUKfm daag ook ander universiteite uit om te kyk watter kampus in Suid-Afrika die meeste orgaanskenkers in ses maande kan registreer.
Daar word ook in die nabye toekoms beoog om ‘n orgaanskenker-koffie bekend te stel wat bewustheid sal verhoog.
“Die koffie sal teen R7.50 per koppie verkoop word, omdat een skenker sewe lewens kan red en 50 se lewens beïnvloed,” het Martie verduidelik.
“Alles begin hier by die NWU en waarom kan bewustheid van orgaanskenking ook nie hier gebeur nie? Ek is baie bly hoe positief mense daaroor is om ‘n verskil te maak in ander se lewens. Dit is belangrik om ingelig te wees sodat jy ‘n besluit kan neem,” het sy bygevoeg.



