Nou wag Maties vir Puk in herhaling van daardie eindstryd
In NWU-Pukke se eerste Varsitybekerwedstryd voor hulle tuisskare vanjaar op die Fanie du Toit Sportgronde, het hulle glad nie teleurgestel nie en met ‘n 37-7 oorwinning teen die NMMU Madibaz ‘n stelling gemaak. ‘n Stelling wat sê “ons is hier, ons is gereed om weer die beker te lig, hier by die Fanie gaan ons …
In NWU-Pukke se eerste Varsitybekerwedstryd voor hulle tuisskare vanjaar op die Fanie du Toit Sportgronde, het hulle glad nie teleurgestel nie en met ‘n 37-7 oorwinning teen die NMMU Madibaz ‘n stelling gemaak.
‘n Stelling wat sê “ons is hier, ons is gereed om weer die beker te lig, hier by die Fanie gaan ons onstuitbaar wees.”
Vroeg in hierdie wedstryd was NWU-Pukke alreeds in beheer met drieë van die weer eens uitstekende Wilmar Arnoldi en Elden Schoeman wat ‘n 17-0 voorsprong al teen halftyd besorg het.
“Vir my was dit belangrik dat ons karakter wys en NMMU nie kans gee om in die wedstryd te kom nie. Ons het vir mekaar gespeel en daardie bonuspuntdrie is ‘n bewys daarvan,” het Jonathan Mokuena, Puk-breier na die wen gesê.


Mokuena was ook tevrede met veral sy voorspelers se hoë werkverrigting, maar weet dat hulle weer alles gaan moet insit met die volgende belangrike wedstryd wat komende Maandag in Stellenbosch gaan plaasvind. In ‘n herhaling van verlede jaar se onvergeetlike Varsitybekereindstryd, gaan Pukke weer vir Maties aanvat en daar is verseker wraak op Maties se brein waar hulle die bordjies teen die kampioene sal wil verhang.
“Ja kyk verlede jaar se wen was fantasties gewees, maar ons kan nie net in die verlede kyk nie. Ons fokus op die wedstryd wat kom en om nie onnodige druk op die spelers te plaas nie. Hulle weet wat hulle sal moet doen. Dit is ook ‘n nuwe groep spelers wat graag die geleentheid sal wil aangryp,” het Mokuena genoem.
Maties het verlede Maandag met Wits op hulle tuisveld met 26-14 afgereken en sal graag dieselfde behandeling aan Pukke wil gee.
Maties se sleutelspelers sal die reusagtige Kobus van Dyk op agtsteman en Janco Venter of flank wees en dit behoort ‘n interessante kragmeting tussen Van Dyk en Puk-kaptein Jeandré Rudolph te wees, wat tans kwaliteit rugby speel.
In die agterlyn sal Craig Barry (Maties) en Lungelo Goza (Pukke) groot rolle speel. Die vleuels van Maties, Duncan Saal en Edwill van der Merwe is ook pure blits en sal mooi deur Tapiwa Mafura en Jimmy Mpailane dopgehou moet word.
Alle tekens dui op ‘n ongelooflike wedstryd wat op Maandag 13 Februarie tussen dié twee universiteitspanne gaan plaasvind. Gaan Pukke weer op Matie-grond kan wen, of gaan die Dok Craven Stadion weer Matie glorie beleef?
Afskoptyd is 19:00.



