Oud-Puk skoonheid nou Mev. SA finalis
Op 28 April is oud-Puk, Anrike van der Walt as top 25 finalis van die Mev. Suid-Afrika kompetisie aangewys. Anrike is nie net die besorgde ma van twee pragtige dogtertjies nie, maar is ook ʼn beeldskone voorbeeld van hoe ʼn vrou ʼn inspirasie vir ander kan wees.

Op 28 April is oud-Puk, Anrike van der Walt as top 25 finalis van die Mev. Suid-Afrika kompetisie aangewys. Anrike is nie net die besorgde ma van twee pragtige dogtertjies nie, maar is ook ʼn beeldskone voorbeeld van hoe ʼn vrou ʼn inspirasie vir ander kan wees.
Anrike het B. A. Besigheidskommunikasie aan die NWU se Potchefstroomkampus studeer en haar honneurs in Grafiese Ontwerp voltooi. Sy was ook inwoner van Kasteel Dameskoshuis en het in die NWU Studenteraad gedien. Alhoewel sy nou in Pretoria woon, is sy steeds ‘n trotse Puk.

Anrike sê dat sy baie verbaas was toe haar naam uitgeroep is, en sy besef het dat sy een van die top 25 beeldskone vroue in die land is. “Ek het dit glad nie verwag nie en was uit die veld geslaan. Ek het die Here se vrede in my hart en het geweet dat ek sou voortgaan om ʼn verskil te maak, al sou ek die Top 25 nie maak nie.” Maar sy het dit gemaak en voel ongelooflik geseënd en opgewonde.
Anrike is betrokke by ʼn kinderhuis in Bronkhorstspruit, African Blessings, en sy geniet dit baie om ʼn verskil in die kinders se lewens te kan maak.

“Ek voel watter verskil dit maak om te kan gee, van jouself, jou tyd, jou wysheid en al jou liefde. Ek het gesien dat liefde genees, en dat hoe meer jy daarvan gee, hoe meer word jy daarmee gevul en self ook genees. Mag elke vrou besef dat sy ʼn inspirasie is en dat haar lewe ʼn suksesstorie is.”
Vir Anrike lê daar nou eindelose moontlikhede voor. Sy is betrokke in verskillende platforms waar sy praatjies lewer vir tieners oor die impak van sosiale media. Sy is ook betrokke by CANSA en ander liefdadigheidsprojekte soos Tekkie Tax. Sy voel dat elke vrou geïnspireer moet word om die beste weergawe van hulself te wees en wil hê vroue moet beweeg van suksesvol na betekenisvol.

“Dit is my passie om ʼn inspirasie vir ander vrouens te wees en bemagtiging onder vroue te vier en te ondersteun. Elke vrou is ’n inspirasie op haar eie manier en ’n bewys dat sterk en skoonheid hand aan hand loop.”
Stem vir Anrike as die nuwe Mev. Suid-Afrika deur AnrikevanderWalt na 35959 te SMS.
Volg haar ook op Facebook by @Anrike.MrsSAFinalist, Twitter by @AnrikevdWalt, Instagram by @anrike_modernmom of besoek haar webtuiste by www.anrikevanderwalt.co.za



