“Wanner ons ‘n goeie goed doen, onthou niemand dit nie, maar wanneer ons slegte goed doen, dan kan niemand dit vergeet nie.”
Dit is die woorde van een van die wêreld se mees bekende “bikers”, oudpresident van die Hells Angels, Sonny Barger.
Een van Potch se motorfietsklubs het Vrydag so ’n goeie daad gedoen dat min mense in die stad dit sal vergeet.
Die Potch Kings motorfietsklub het drie slaggate in Govan Mbekirylaan herstel.
Volgens Louw Laubscher, president van die klub, het hulle besluit om die slaggate te herstel aangesien hulle op 6 Mei hul jaarlikse byeenkoms by Broncos gehou het.
“Verlede jaar het Shaun Ingram op die pad verongeluk.
“Ons wil hê mense moet veilig by ons byeenkoms aankom en na die byeenkoms weer veilig by die huis kom,” het hy gesê.
Die slaggate op die pad is veral gevaarlik vir motorfietsryers wat gereeld die pad vir breakfast runs gebruik.
Die gemeenskap het die klub op Facebook bedank vir die werk wat hulle gedoen het.
Van die inskrywings lees:
Jannie van Graaff: Kings motorfietsklub – julle is ysters , mooi so!
Ester Steenkamp: Dankie, julle is wonderlik
Hoewel Laubscher en die visepresident van die klub, Pieter Blignaut ietwat uit plek gelyk het met hulle leeronderbaadjies terwyl hulle die teer vasgestamp het, het hulle ’n goeie diens aan die inwoners van die stad gelewer.



