Goedheid van die aarde
Hormonale orale kontrasepsie ook bekend as die Voorbehoedpil Vandag se gesprek is meer op die dames gerig. Dit beteken nie die mans kan nie iets leer nie! Die besluit om op die pil te gaan, is iets wat nie ligtelik behoort opgeneem te word nie, veral voor die ouderdom van agtien jaar. Dit kan onnodige …
Hormonale orale kontrasepsie ook bekend as die Voorbehoedpil
Vandag se gesprek is meer op die dames gerig. Dit beteken nie die mans kan nie iets leer nie! Die besluit om op die pil te gaan, is iets wat nie ligtelik behoort opgeneem te word nie, veral voor die ouderdom van agtien jaar. Dit kan onnodige gemoedsteurnisse en hoofpyne in ‘n andersins gesonde tiener meisie veroorsaak.
Daar is verskeie voordele verbonde aan die voorbehoedpil onder andere ligter en meer gereelde menstruasie, beter aknee beheer, sowel as die feit dat interaksie tussen man en vrou meer spontaan kan wees, omdat intimiteit nie onderbreek word om alternatiewe kontrasepsie metodes toe te pas nie. Daar is ook gevalle waar dit die simptome van endometriose verlig het.

Daar is egter ‘n paar belangrike faktore om in ag te neem wat duidelik vir my was in my ondervinding in die praktyk. Eerstens moet die pil elke dag op dieselfde tyd geneem word. ‘n Paar uur verskil in dosis kan veroorsaak dat die plasma konsentrasie daal en deurbraakbloeding kan voorkom. Dit lei ook tot ‘n verhoogde risiko vir swangerskap. Tweedens moet ‘n volledige pasient geskiedenis geneem word voordat ‘n voorbehoedpil voorgeskryf word. ‘n Pasiënt met ‘n risiko of geskiedenis van bloedklonte en hoë ongekontroleerde bloeddruk moet intensief gemonitor word, of van alternatiewe kontrasepsie metodes gebruik maak. Die voorbehoedpil word ook nie aanbeveel vir rokers oor die ouderdom van 35 nie omdat dit die risiko vir bloedklonte verhoog.
Dit is ook belangrik om te noem dat dit nie ‘n “one size fits all” benadering is nie. Die pil wat vir jou vriendin wonders doen kan op sy beurt emosionele buie, aggressie of gewigstoename by jou veroorsaak. Soms is dit nodig om deur ‘n paar verskillende kombinasies te gaan voordat jy die regte een vind wat vir jou werk. ‘n Voorbehoedpil vat egter drie maande om in jou sisteem te stabiliseer, met ander woorde ‘n gevolgtrekking kan nie na die eerste maand gemaak word nie. Verder kan die voorbehoedpille wat testosteroon onderdruk, ook net voorgeskryf word vir pasiënte met ‘n bewese oormaat testosteroon, anders kan dit menopouse simptome veroorsaak. Verseker stof tot nadenke!
Vir meer inligting stuur gerus jou epos na jjosling@gmail.com



