NewsNews

Student sterf na motorfietsongeluk by Mooivalleiparksirkel

'n Tweede jaar student is vroeg Dinsdagoggend dood nadat hy Maandagaand in ’n motorfietsongeluk betrokke was.

‘n Tweede jaar student is vroeg Dinsdagoggend dood nadat hy Maandagaand in ’n motorfietsongeluk betrokke was.
Nicolaas van den Heever (20), beter bekend as Nico, is Maandagaand omstreeks 18:00 by die sirkel naby Mooivalleipark deur ’n vragmotor op sy motorfiets raakgery.
Volgens sy ma was hy nog by sy volle bewussyn toe hulle op die ongelukstoneel aankom.
“Hy was op pad om by ons te kom eet. Hy het vertel dat hy in die sirkel ingedraai het. Die vragmotor was aan sy buitekant toe dit hom tref,” vertel sy.
Die bestuurder van die vragmotor het nie gestop nie en met paramedici van ER24 se aankoms op die toneel, was die vragmotor reeds weg.
Nico is op die toneel gestabiliseer, waarna hy na Mediclinic Potchefstroom geneem is vir verdere behandeling.
Volgens Simpson het Nico se bloeddruk in die ambulans reeds bietjie begin daal, en later in die hospitaal kon hulle steeds nie sy bloeddruk stabiliseer nie.
“Hulle het gesien dat sy bekken baie sleg gebreek is en dat hy erge inwendige beserings opgedoen het.
Dit moes ’n ontsettende slag gewees het. Dit is die ergste ding wat in my lewe gebeur het. Ek is verslae, heeltemal platgeslaan,”  so sê Ilse Simpson oor die tragiese dood van haar seun.
Volgens haar was Nico ’n baie liefdevolle en kunstige mens.
“Hy was ’n Godvresende, liefdevolle mens, ’n regte terggees met ’n fyn humorsin. Ons harte is flenters oor ons kind en boetie, maar ons sien hom weer eendag in ’n beter wêreld,” het ’n emosionele Simpson gesê.
Nico se biologiese pa is aan kanker oorlede toe hy maar vyf jaar oud was.
“Ons is ’n saamgestelde maar hegte familie, maar soos my man altyd sê, ons het hierdie familie aanmekaar gebid,” vertel sy.

Nico van den Heever is Dinsdagoggend oorlede

Hy laat sy ma en stiefpa, Ilse en Gawie Simpson, broers, Marco (17) en Tiaan (15) van den Heever en twee stiefsussies, Christene (23) en Cleary (20) Simpson na.
“Dit is hartseer om ‘n student op hierdie wyse te verloor.
Die impak van ‘n jongmens wat so tragies sterf is groter as wat mense gewoonlik dink, want sy dood raak ‘n wye universiteitsgemeenskap soos sy vriende, klasmaats en dosente.
Die universiteit sal die familie bystaan waar hulle kan en spreek ook hul opregte medelye met die gesin en familie uit,” het Kiewiet Scheppel, woordvoerder van die NWU se Potchefstroomkampus gesê.

Nico saam met sy ma, Ilse.

‘n Roudiens word Maandag, 26 Junie vanuit die Gereformeerde studentegemeente in Silwerstraat gehou.
Ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die gemeenskap versoek om na vore te kom met enige inligting wat kan help in die ondersoek.
“Enige iemand met inligting oor die voorval, kan ao. Werner Hildebrand by (018) 299 7428 of 082 513 3280 skakel,” het Manyoba gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button