Tiener opera sensasie, Amira skenk speelpark in Promosa
Die bekende Hollandse sangeres, Amira Willighagen (13), het op Dinsdag 20 Junie Potchefstroom besoek waar sy ‘n speelpark aan Promosa Laerskool geskenk het.

Die bekende Hollandse sangeres, Amira Willighagen (13), het op Dinsdag 20 Junie Potchefstroom besoek waar sy ‘n speelpark aan Promosa Laerskool geskenk het. Hierdie is die derde speelpark wat sy in Potchefstroom skenk. Die eerste was by Lesego Laerskool in Ikageng en die tweede in Sarafina.
Hierdie speelpark is moontlik gemaak deur Amira se welsynsorganisasie, Stichting Gelukskinders, in samewerking met die NWU Potchefstroom se Innovasiekantoor. Die projekleier van die Amira projek van die NWU, Frieda Fiellis, het die organisasie van die skenking moontlik gemaak, aangesien sy self by Promosa Laerskool skoolgegaan het, en haar kinders nou ook daar skoolgaan.
Tydens die oorhandiging van die speelpark Dinsdag, het Amira twee liedjies saam met die kinders gesing. Die kinders was almal baie opgewonde om haar daar te kon verwelkom en elkeen wou ‘n foto saam met haar neem. Die laerskoolkoor het ook ‘n sangitem vir Amira gelewer en ‘n kort toneelstuk is ook opgevoer.
Amira se ma, Frieda Willighagen, sê dat Amira net tien dae per jaar vakansie kry, en dat sy dit net in Suid-Afrika wil deurbring. Amira sê dat sy dit geniet om na Suid-Afrika te kom, en veral om Potchefstroom te besoek.
Sy het begin om speelparke vir kinders in Potchefstroom op te rig in 2014.
Die eerste speelpark wat sy opgerig het, is die Amira Park in Ikageng. Sy sê dat dit belangrik is dat kinders speelgronde het, en dat ‘n kind nooit te oud is om te speel nie.
Amira het vir haar naam gemaak toe sy die sesde seisoen van Holland’s Got Talent in 2013 gewen het op die ouderdom van 9. Sy gaan die naweek optree by Afrikaans is Groot in Pretoria.
Besoek www.potchefstroomherald.co.za vir die video van Amira se besoek aan Promosa Laerskool.
Hier is die video van Amira se skenking











