NewsNews

Ikageng inwoners vra desperaat vir HOP-huise

Verskeie inwoners van uitbreiding 11 in Ikageng wag al vir sowat 17 jaar vir die munisipaliteit om vir hulle HOP-huise (RDP) te bou, maar hulle woon steeds in sinkhuise.

In die ysige winteraande in Potchefstroom is daar mense wat nie eers hitte in die skuiling van hul eie huise kan geniet nie.

Verskeie inwoners van uitbreiding 11 in Ikageng wag al vir sowat 17 jaar vir die munisipaliteit om vir hulle HOP-huise (RDP) te bou, maar hulle woon steeds in sinkhuise.

“Ons bly al 17 jaar hier. Ons was van die eerste mense wat hier kom bly het. Ons het dié straat oopgemaak maar ons het nog nooit huise gekry nie,” sê Portia Masuse, ‘n inwoner van Thamagastraat in wyk 20, wat reeds vir 17 jaar vir haar huis wag.

In 2011 het die munisipaliteit ‘n fondasie op haar erf gelê, maar vyf jaar later het hulle dit weer kom afbreek met die belofte dat ’n nuwe fondasie gelê sou word. Masuse wag nog steeds vir die munisipaliteit om terug te kom.
Nog ’n inwoner in dieselfde straat het ‘n lening aangegaan om haar huis te laat bou, nadat die munisipaliteit ook weer die stene wat oorspronklik daar geplaas is om haar huis mee te bou, verwyder het en nooit weer teruggekom het nie.

Masuse se vriendin, Jane Rampete woon ook reeds vir 17 jaar in die straat maar het, soos Masuse, nooit haar huis gekry nie.
“Hulle het slabs kom gooi, en daardie slabs het ses jaar op my erf gelê tot hulle dit weer kom uithaal het,” sê sy.
“Ek en Jane werk nie, waar gaan ons die geld kry om ons eie huise te bou?,” het Rampete moedeloos gevra.

Portia Masuse en Jane Rampete.
Portia Masuse en Jane Rampete.

“Waar die ander mense aanhou ryk word, word ons arm mense elke dag net meer arm.”
Stone Mahlabe, oud-raadslid van dié wyk, sê dat hy destyds geveg het om huise vir die inwoners te kry, maar niemand wou na hom luister nie.

“Hulle het net hulle ore toegemaak. Ek het hulle mooi gevra, en hulle het aanhou sê dat hulle gaan kom, maar toe kom hulle net om die stene weer te vat,” sê hy.

Nog twee inwoners van wyk 20, Emely Ncumalo en Agnes Sewagodimo, het ook dieselfde probleme ondervind toe dit kom by die bou van hulle HOP-huise. Die munisipaliteit het op Ncumalo se erf ook ‘n fondasie gelê wat vir twee jaar net so gelos is. Uiteindelik het die munisipaliteit vir haar ‘n huis begin bou, maar na vyf jaar was die huis steeds nie voltooi nie en kon sy nie daar intrek nie.

“Toe ons kla, toe sê hulle dat my huis klaar is en dat ek reeds in die huis woon, maar ek het nog in my sinkhuis gebly agter die huis, want die huis was nog nie klaar nie en ek kon nie daarin bly nie,” sê sy.
In 2016 het die munisipaliteit haar onvoltooide huis afgebreek en nie weer teruggekom nie.

Emely Ncumalo (links), Agnes Sewagodimo en die driejarige gestremde seun, Kamogelo Mogketsi.
Emely Ncumalo (links), Agnes Sewagodimo en die driejarige gestremde seun, Kamogelo Mogketsi.

“Ons wag nog steeds en niemand het weer hierheen gekom om my huis te kom bou nie. Ons weet nie eers wie ons wyksraadslid is nie. Daar word ook nie vergaderings gehou waar ons kan sê waarmee ons sukkel nie.”
Sy sê al bou hulle net vir haar een kamer, sal sy gelukkig wees. Die sinkhuise word ongelooflik koud in die winter, en sy het ‘n driejarige gestremde kind wat saam met haar woon, wat baie swaarkry as dit te koud is.

“Seweuur in die aand moet ons al in die bed klim, want dan is dit te koud in die huis. Ons kan nie eers meer televisie kyk nie, want dit is te koud.”

Die sinkhuise is nie net yskoud in die winter nie, maar in die somer is dit bloedig warm en wanneer dit reën loop die water kniediep in hul huise in. “Ek soek die RDP asseblief! Voor ek doodgaan hier,” is Ncumalo se desperate versoek aan die munisipaliteit.

Na sowat 8 weke het die NW405 munisipaliteit hul kommentaar gelewer

Volgens ʼn woordvoerder van die NW405 munisipaliteit, Jeanette Tshite, vorm uitbreiding 11 deel van die projekte wat deur die NW Provinsiale Departement en die plaaslike regering en Menslike Nedersettings, geklassifiseer is as geblokte projekte weens verskeie struikelblokke wat met die tyd daar ontwikkel het.

Sy sê dat die Provinsiale Departement van Plaaslike regering en Menslike Nedersettings reeds begin het met die proses om daardie projekte weer aan die gang te kry.

“Raadslede sal, sodra diensverskaffers aan hulle beskikbaar gestel is, kommunikeer met die geaffekteerde belangegroepe, en die pad vorentoe sal dan beplan word,” sê sy.

Die munisipaliteit het nog geen terugvoer gegee oor hoe lank hierdie proses gaan neem nie, en watter struikelblokke veroorsaak het dat die projekte geblok is. Vir nou is talle inwoners desperaat om HOP (RDP) huise te kry, aangesien hulle al so lank moes wag daarvoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button