Mooistes op kampus word gekroon
Twee name wat nou baie bekend is onder studente op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is Wethu Sibiya en Peter de Klerk, of andersins bekend as die nuwe Mnr. en Mej. Kampus. Mnr. en Mej. Kampus (MMK) bring jaarliks die mooistes van die mooistes bymekaar om deel te neem aan ‘n kompetisie waar skoonheid nie net …
Twee name wat nou baie bekend is onder studente op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is Wethu Sibiya en Peter de Klerk, of andersins bekend as die nuwe Mnr. en Mej. Kampus.
Mnr. en Mej. Kampus (MMK) bring jaarliks die mooistes van die mooistes bymekaar om deel te neem aan ‘n kompetisie waar skoonheid nie net uiterlik nie, maar ook innerlik beoordeel word. MMK is al ‘n geruime tyd ‘n hoogtepunt op kampus en studente sien jaarliks uit om te sien wie gekroon gaan word.

Volgens die organiseerder van MMK, Nicole Kingwill, bied MMK vir studente die geleentheid om deel te neem aan ‘n aksie wat nie in koshuisverband geskied nie. Hier kompeteer 24 deelnemers om gekroon te word as die kampusverteenwoordigers.
Dit is nie net ‘n skoonheidskompetisie nie, maar MMK stel studente in staat om betrokke te raak by liefdadigheid.
“Danksy Halewood en RedSquare ontvang die wenners R20 000 wat hulle of kan skenk aan ‘n bestaande liefdadigheidsorganisasie, of kan gebruik om ‘n nuwe een te stig.

“Ons streef daarna om MMK relevant te hou, deur seker te maak dat die wenners op so ‘n wyse gekies word dat hulle die toonbeeld van ‘n trotse PUK is: lief vir hul kampus, medemens en die omgewing,” sê Kingwill.
Mej. Kampus, Wethu Sibiya, is ‘n vierdejaar L.L.B.-student van Mpumalanga. Sy sê die beste deel daarvan om as Mej. Kampus gekroon te wees, is dat sy nou die geleentheid het om dit te doen wat sy nog altyd wou doen.
Dit is om mense die gesig van Jesus te wys deur liefde, deernis en diensbaarheid. Vir haar gaan die rol daaroor om behoeftes raak te sien en bewustheid te skep oor verskillende sosiale kwessies. Sy sê as Mej. Kampus gaan sy soek na gapings waar sy en Peter de Klerk (Mnr. Kampus) ‘n verskil kan maak in mense se lewens.

“As ‘n Christen is my eerste instink om die evangelie van Jesus Christus te versprei omdat ek glo dat Jesus mense se behoeftes kan vervul wat ek as mens nooit kan vervul of verstaan nie, en ek weet sonder twyfel dat verlossing die uiteindelike geskenk en uitdrukking van liefde is,” sê sy.
Peter is ‘n eerstejaar student in kommunikasiekunde van die Wes-Kaap. Hy sê dat dit vir hom ‘n absolute trots en voorreg is om die PUK as Mnr. Kampus te kan verteenwoordig.
“Ek gaan die PUK se naam hoog hou en ‘n voorbeeld vir ander studente wees,” sê hy. Peter sê dat hy graag sy eie liefdadigheidsorganisasie wil stig. “Al kan ek net ‘n klein verskil maak, sal daar ‘n verskil wees,” sê hy. Hy poog ook om ‘n verskil te maak op kampus deur sy vriendelike self te wees en hoop dat hy sy medestudente so sal kan beïnvloed.
Uit die oë van ‘n MMK UK-lid, sê Kingwill dat Sibiya en De Klerk twee droomfinaliste was. “Hulle het deur die loop van die kompetisie hul volle samewerking en goeie gees getoon. In die algemeen is hulle baie dinamiese individue wat ‘n onbeskryflike teenwoordigheid na ‘n vertrek bring. Warm, vriendelike jong mense wat trots is op hulle kampus,” sê sy.






