
Twee studente is op Woensdag 15 November op aanklag van roof in hegtenis geneem.
Die twee studente, asook een van hulle se broer wat nie ’n student is nie, het ’n ander student op Dinsdag 14 November omstreeks 03:15 in Silwerstraat beroof.
Die polisie het na bewering inligting ontvang van ’n beriggewer wat glo toevallig saam was tydens die rooftog.
Hy het glo vir ’n saamrygeleentheid gevra, waarna die studente eers die rooftog gepleeg het voor hulle hom teruggeneem het.
Die verdagtes, Tshepo Seroalo, sy broer Kgabale, en Pleasure Masike het ’n vrouestudent na haar woonstel gevolg.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, was die slagoffer besig om haar woonstel oop te sluit toe sy deur ’n man gekonfronteer is wat haar vir R30 petrolgeld gevra het.
Kort daarna het ’n vrou opgedaag en haar glo met ’n mes gedreig terwyl sy haar selfoon en woonstelsleutels geëis het. Die slagoffer het haar nie teëgesit nie, waarna die twee verdagtes haar gedwing het om saam met hulle te loop sodat sy die hek vir hulle kan oopmaak.
Die verdagtes het die verkeerde knoppie gedruk, wat toe die slagoffer se voertuig oopgesluit het. Hulle het in haar voertuig rondgekrap, maar niks gesteel nie.
Die slagoffer het weer vir hulle die hek oopgemaak, waarna hulle in ’n silwer voertuig gevlug het.
Later die oggend omstreeks 03:40 het die groep toegang tot die kampus verkry deur Tshepo Seroalo se kaart te gebruik. Volgens die beriggewer wou hulle iemand op kampus ook beroof, maar het daarteen besluit. Hulle is weer omstreeks 05:40 van die kampus af weg.
Daar word vermoed dat die studente die gesteelde selfoon vir dwelmgeld gaan verkoop het.
Die polisie kon daarin slaag om die foon tot in Johannesburg na te speur.
Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, het bevestig dat Tshepo Seroalo en Pleasure Masike beide ingeskrewe studente van die NWU is.
“Ons is bewus van die voorval. Sodra die kriminele saak afgehandel is, sal die NWU met ’n dissiplinêre verhoor begin,” het hy gesê.
Die Herald het al oor Tshepo Seraolo berig, maar dit was oor sy vernuf op die krieketveld.
Hy het sy studies aan die NWU met ’n sportbeurs begin. Volgens Jacobs is dié beurs reeds in Februarie teruggetrek. Hy speel ook nie meer vir die Pukke krieket nie.
Die drie verdagtes het Maandag op aanklag van roof met verswarende omstandighede, poging tot roof met verswarende omstandighede, menseroof en bedrog in die hof verskyn.
Borgtog van R1 000 is aan al drie toegestaan, maar onder streng voorwaardes. Die saak is tot 22 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek.




