
‘n Vrou is gisteroggend omstreeks 07:30 dood na haar voertuig met ʼn vragmotor op die Ventersdorppad ongeveer 15km buite Potchefstroom gebots het.
Paramedici van ER24 het op die toneel gekom waar hulle die voertuie langs die pad aangetref het. Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, was die vrou se voertuig onder die vragmotor vasgevang.
“Sy was in binne die voertuig vasgevang, ongelukkig het sy reeds aan haar beserings beswyk. Daar was niks wat paramedici vir haar kon doen nie en sy is dood op die toneel verklaar,” het Meiring gesê.
Die brandweer moes haar uit die voertuig uit sny. Die bestuurder van die vragmotor het geen beserings opgedoen nie.
Die oorsaak van die botsing is nog onbekend, maar die polisie was op die toneel vir verdere ondersoeke.



