NewsNews

Stad stem nie saam oor spoedhobbels

Sommige inwoners is verlig oor die nuwe geel spoedhobbels, terwyl ander glo dit gaan meer skade as goed doen.

Sommige inwoners is verlig oor die nuwe geel spoedhobbels, terwyl ander glo dit gaan meer skade as goed doen.
Volgens Malcolm Grimbeek, verkeershoof van die JB Marks Munisipaliteit, gaan daar nog sulke spoedhobbels aangebring word.
“Ons kan nie net niks doen nie, die gebied wat ons moet dek is groot, daarom kan ons beamptes nie die hele tyd oral wees nie. Ons moet dus die hulpmiddels tot ons beskikking gebruik.”
Heelwat inwoners is beswaard oor die “padpuisies” soos sommige van hulle dit gedoop het.
Volgens hulle dien dit geen doel nie, omdat groter voertuie bloot daaroor kan ry sonder om spoed te verminder. Dit lei volgens inwoners na nog ’n groter gevaar vir ongelukke. Dit hou ook ’n gevaar vir motorfietse en bromponies in wat daaroor moet ry, veral wanneer dit reën en dit glad is.
Bewerings is ook dat dié hobbels veral kleiner voertuie se bande en skokbrekers beskadig en dat dit die wielsporing sal beïnvloed.
Volgens Sean Smith van P&B Brake and Clutch sal dit nie ’n voertuig beskadig solank daar rustig oor die hobbels gery word nie.
“Motoriste wat daaroor jaag, sal hulle voertuie beskadig. Mense sal dalk oor ‘n die verloop van tyd die wielsporing moet nagaan, aangesien die bande tog daarteen stamp,” sê hy.
Beide Grimbeek en Konrad de Waal, vervaardiger van die spoedhobbels, stem saam met Smith dat solank mense teen die voorgeskrewe spoedgrens daaroor ry, dit nie skade aan voertuie kan aanrig nie.
Volgens De Waal het sy maatskappy, Dura-Bump, reeds die hobbels suksesvol in baie munisipaliteite in die Wes-Kaap en in Namibië aangebring. Hulle is ook besig om ’n kontrak in Abu Dhabi te beding.
“Ek het oor baie jare self die epoxy waarvan die hobbels gemaak is, in samewerking met verskeie verkeersingenieurs ontwikkel. Dit is nie glad wanneer dit nat word nie. Die hobbels is regdeur geel, so daar is geen onderhoud om te verf nie,” sê hy.
Volgens Grimbeek word die hobbels gebruik om verkeer te kalmeer. Veral daar waar mense teen onaanvaarbare spoed ry. “Die gebruik daarvan word voorgeskryf in die verkeerswet en dit is SANS goedgekeur. Ons probeer voorkomend optree in belang van alle padgebruikers,” het hy gesê. Volgens hom het wyksraadslede die hobbels in die verskeie gebiede uit hulle wyksfondse befonds.
Volgens Jeanne Adriaanse, raadslid van Wyk 24, is daar tydens ’n openbare vergadering in haar wyk oor die spoedhobbels besin en daarna deur die wykskomitee gefinaliseer.
“Ons het op grond van die getal ongelukke, plekke geïdentifiseer waar die hobbels moes kom.
’n Inwoner het uitreksels van die South African Road Classification and Access Management Manual aan die Herald gestuur waarin die gebruik van spoedhobbels en vierrigting-stopstrate op sekere paaie nie aanbeveel word nie.
Dit sluit paaie in waarvan die belangrikste funksie die beweging van verkeer tussen stede, dorpe of stedelike distrikte so min as moontlik belemmer. Volgens dié inwoner is Govan Mbeki-rylaan byvoorbeeld so ’n pad waar die hobbels nou die vloei van verkeer belemmer. Volgens Grimbeek word die gebruik van die hobbels voorgeskryf in die Road Traffic Signs Manual.
Hier word voorgestel dat die gebruik van sulke hobbels met inagneming van ander maatreëls om spoed te verminder, gebruik word. Volgens dié handleiding is die gebruik van die hobbels effektief in gebiede waar alle voertuie se spoed laag gehou moet word, soos sirkelpaaie wat in en uit parkeerareas of woongebiede vloei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button