GPF beplan sentrum vir gemeenskapsveiligheid op Bult
Die Potchefstroom Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) beplan om hopelik teen Mei vanjaar ’n sentrum vir gemeenskapsveiligheid op die Bult op te rig. Volgens Malan le Roux, GPF voorsitter, sal die sentrum op die park voor Absa aangebring word. “Ons het reeds groot finansiële bydraes vanaf die gemeenskap en besigheidseienaars ontvang. Die nodige toestemming is ook van die …

Die Potchefstroom Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) beplan om hopelik teen Mei vanjaar ’n sentrum vir gemeenskapsveiligheid op die Bult op te rig.
Volgens Malan le Roux, GPF voorsitter, sal die sentrum op die park voor Absa aangebring word.
“Ons het reeds groot finansiële bydraes vanaf die gemeenskap en besigheidseienaars ontvang. Die nodige toestemming is ook van die munisipaliteit bekom,” sê hy.
Volgens hom het die GPF die polisie gevra om poste te skep sodat die sentrum oor die langtermyn as ’n satelliet-polisiestasie gebruik kan word.
“Dit is ’n gemeenskapgedrewe projek en sodra dit opgerig is, sal dit aan die wyk oorhandig word,” het hy gesê.
Volgens hom is dit ’n groot probleem op die Bult dat misdaad nie aangemeld word nie.
Die gebou sal beskikbaar gestel word vir buurtwaglede, polisiebeamptes en privaat sekuriteitsbeamptes.
“Dit is ’n gemaklike plek vir sekuriteitsdienste om af te staan sodat daar altyd iemand naby is om te help indien daar ‘n misdaad plaasvind,” het Le Roux gesê.
Dit sal ’n dubbelverdieping wees wat selle, ’n kantoor, badkamer en raadsaal insluit. Volgens Le Roux sal dit ook vir vergaderings, wat met die gebied te doen het, aangewend kan word, soos byvoorbeeld wykskomitee vergaderings.




