
‘n Sakeman van Potchefstroom sterk tuis aan nadat hy ernstig beseer is toe sy voertuig op Maandagaand 26 Maart omstreeks 20:15 ’n vlakvark op die Viljoenskroonpad getref het.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/46080/vlakvark-laat-sakeman-hospitaal-beland/
Cornè Esterhuizen, een van die eienaars van Kukard Paneelkloppers, moes op 29 Maart ‘n operasie ondergaan om sy rugwerwels met plate en skroewe te heg. Volgens hom het die operasie goed verloop.

Esterhuizen was die betrokke aand na sy ouers op hul plaas op pad toe die ongeluk gebeur het. Volgens hom het sy voertuig van die pad gegaan nadat dit die vlakvark, wat skielik oor die pad gehardloop het, getref het. Dit het gelukkig nie gerol nie.
“Met al die plate en skroewe weet ek nou hoe voel Robocop,” het Esterhuizen gespot.
Volgens hom gaan dit nog ses weke neem om ten volle te herstel.
“Ek mag ‘n bietjie loop, maar die res van die tyd moet ek plat lê. Ek sukkel egter daarmee,” vertel Esterhuizen, wat nie kan stilsit nie.




