Goue geheime agter die kunstegordyn
Marianke Saayman en Arisa Janse van Rensburg “Die dag toe ek met die boek begin het, was daar ‘n kring om die son gewees.” So sê Lennie Gouws met ’n magiese kyk in haar oë, amper asof hierdie rare natuurverskynsel vir haar ’n teken was. Sy is die skrywer van die nie-fiksie boek, Die geheim …
Marianke Saayman en Arisa Janse van Rensburg
“Die dag toe ek met die boek begin het, was daar ‘n kring om die son gewees.”
So sê Lennie Gouws met ’n magiese kyk in haar oë, amper asof hierdie rare natuurverskynsel vir haar ’n teken was. Sy is die skrywer van die nie-fiksie boek, Die geheim agter die gordyn, wat handel oor die geskiedenis van kunste op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus (NWU-Puk).
Gouws het haar werkslewe begin as maatskaplike werker en later haar pad na die joernalistiek gevind tydens die voltooiing van haar honneurs in joernalistiek aan die PU vir CHO (nou NWU-Puk).
Dit is by die Potchefstroom Herald waar sy haar liefde vir skryf en belangstelling in geskiedenis ontdek het.
Die geheim agter die gordyn het wel later eers deel van haar lewe geword.
“Ek het in November 2013 met die boek begin met die idee om dit in Junie 2014 te voltooi. Die opdrag vir die boek het vanaf professor Rikus Fick, toe nog studentedekaan, gekom as eerbewys vir die aftrede van Horst Bütow aan die einde van 2014,” verduidelik Gouws oor die oorsprong van die boek. Horst Bütow was die stigter van alle kunste-aktiwiteite op kampus toe hy in 1980 deur die destydse rektor as Studenteadviseur vir kultuur aangestel is.
Talle vergaderings is na die uitgee van dié opdrag gehou en Gouws het begin om inligting in te samel. “Een van die kosbaarste bronne wat ek teëgekom het, was ‘n plakboek van die PUK-Koor wat in 1976 deur Awie van Wyk, toe die koorleier, begin is.
Die boek is 80cm x 45cm groot en 18cm dik en is vol geskrywe, plakkate en ander aandenkings van die koor en al die toere waarop hulle was,” verduidelik sy.
Alhoewel die boek reeds in 2014 die lig moes sien, kon dit eers verlede jaar uitgereik word. “Dit is weens die groot volumes inligting wat ek moes deurwerk,” sê Gouws.
Uit kunste se magdom inligting het sy talle staaltjies en kosbare aandenkings gekry tydens haar navorsing. “Een wat my die naaste aan die hart lê is ’n handgeskrewe brief van Horst. In 1980 het die kampus met eerstejaarskonsert begin,” verduidelik sy met ’n glimlag.

“’n Paar jaar daarna het die koshuisraad vir die rektor gevra om dit af te stel, sonder om Horst te vra of hom in kennis te stel. Hy het toe ’n brief van 12 bladsye aan die rektor geskryf waarin hy verduidelik dat die eerstejaarskonsert sý konsert is en dat niemand daaraan gaan raak nie.”
Dit was ook vir haar lekker om te sien hoe verenigings wat meer as 50 jaar gelede reeds begin het, vandag nog bestaan. “Goed soos Thalia en PUK-Koor wat die ABKK (algemene bestuur vir kuns en kultuur) in die 60’s beplan het, is tot vandag toe ’n realiteit.”
Die kring om die son moes daardie dag magiese kragte gehad het, want Die geheim agter die gordyn is verlede jaar by die jaarlikse Kunste Variète Dinee vrygestel waar Gouws deur die skare toegejuig is vir hierdie puik toevoeging tot die geskiedenis van kunste op kampus.
“Dit kan nie ongesiens verbygaan dat PUK-Kunste oor soveel jare heen die geleentheid vir duisende studente gegee het om gevorm te word tot afgeronde en veelsydige mense nie,” sê professor Rikus Fick, op wie se aandrang die boek geskryf is, in die voorwoord.
Sy aanmerking som die boek perfek op – ‘n ryk geskiedenis van kunste op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus waarby studente oor dekades heen betrokke kon raak om hul talente uit te leef.
Die boek se nie-fiksionele, dokumentêre aard word gekomplementeer deur opwindende staaltjies van toeka tot nou. Een so ’n verhaal is van die Thalia-toneelgeselskap se wintertoer in Julie 1948 “waar sommige toerlede vreemde dinge beleef het, soos om vir die eerste maal ’n stortbad in ‘n manskleedkamer te sien.”
In die boek word daar ook kort biografiese blikke gebied op legendariese Suid-Afrikaanse kunstenaars en die invloed wat hulle in hul studentedae op PUK-Kunste gehad het. Name soos Johan van Rensburg, Mimi Coertse en Katlego Maboe, om net ’n paar te noem, het hul kunstevlerke hier op kampus gevind en na universiteit ’n sukses van ’n loopbaan in die kunste gemaak.
Die geheim agter die gordyn is ’n moet-lees vir enige persoon wat al betrokke was by kunste op die Potchefstroomkampus en selfs enige persoon wat net belangstel in die geskiedenis van kunste op dié kampus.
Indien jy jouself egter nie in hierdie belangstellingswêreld bevind nie, is die boek liefs nie vir jou nie. Die kunstegeskiedenis word heel gepas afgesluit met die volgende woorde: “Mag PUK-Kunste soos hy reeds oor jare gedoen het, om deur middel van mense se lewens te verryk, hierdie reusetaak voortsit en steeds ‘n groter impak maak.”
Lennie Gouws is tans besig met die saamstel van ’n boek oor die geskiedenis van Potchefstroom, wat beoog word om in Julie te verskyn. Gevestigde besighede in Potchefstroom word uitgenooi om deel hieraan te hê deur hul geskiedenis hierin te laat opneem.
* Skakel Lennie by 083 423 0394 as jou besigheid ’n storie het om te vertel.



