Potch moet saam staan en saam bid
“God gebruik gebeure en omstandighede om die mens mee aan te spreek. Dit is tyd om die hand in eie boesem te steek en te sê Here begin by my. Verander my gesindheid. Gebruik my as ’n instrument in U hand! “Ter voorbereiding van It’s Time Potch, nooi ons u: Kom bid saam met ons by Olënpark Stadion op Donderdag 22 Augustus om 18:00 en weer op Vrydagaand 7 September om 18:00 om die grond vir hierdie groot gebedsdag voor te berei.

It’s Time Potch is ’n dag van gebed wat op 9 September by Olënpark Stadion gehou word. Die hekke open om 12:00 en die hoofprogram sal om 15:00 plaasvind.
Die dag word deur vrywilligers vanuit die gemeenskap georganiseer en die onkoste word deur middel van donasies gedek. Uitgawes word beperk deurdat vrywilligers gratis hul hulp aanbied. Die bekende Oom Angus Buchan sal by die geleentheid as prediker optree.
Ds. Willem Louw, sameroeper van die It’s Time Potch bestuurspan sê: “Mense vra dikwels: Waarom bid julle? Help dit?” “Ja beslis!” antwoord hy. “Daarvan kan baie gelowiges getuig. Dit gebeur dikwels dat mense hoop verloor en geen uitkoms sien nie, maar wanneer hulle begin bid, verander God situasies wat aanvanklik onomkeerbaar gelyk het, in ’n oomblik!
“Onlangs het talle gelowiges begin bid vir uitkoms vir reën in Kaapstad en dit het gebeur! In Potchefstroom het kerkleiers en sakelui begin bid en vandag is daar talle voorbeelde waar gemeenskapsleiers, sakeleiers en kerkleiers hande vat en ’n verskil wil maak. Hierdie reuse dag van gebed is self ’n antwoord op gebede. Ons glo hierdie dag word deur God moontlik gemaak. Die Bybel bevat talle beloftes oor gebed waarvan Mt.7:7-11 en Ps.50:15 ’n voorbeeld is.
“Dit is geen geheim dat ons stad, provinsie en land in groot nood verkeer nie. Ry in die strate van Potchefstroom en jy sal die agteruitgang bemerk en die gebrek aan dienslewering. Stap in enige woonbuurt en jy sal hoor van talle inbrake en geweldsmisdade.
“Almal weet wat die oorsake is wat tot hierdie omstandighede bygedra het en steeds bydra. Ons het meer as genoeg rede om op ons knieë voor God te sak. It’s Time Potch, sê presies soos die naam aandui. Dit is tyd om ons voor God as stad en land te verootmoedig en God om hulp te vra.
“God gebruik gebeure en omstandighede om die mens mee aan te spreek. Dit is tyd om die hand in eie boesem te steek en te sê Here begin by my. Verander my gesindheid. Gebruik my as ’n instrument in U hand!
“Ter voorbereiding van It’s Time Potch, nooi ons u: Kom bid saam met ons by Olënpark Stadion op Donderdag 22 Augustus om 18:00 en weer op Vrydagaand 7 September om 18:00 om die grond vir hierdie groot gebedsdag voor te berei.
“Kom sluit ook aan by die reuse gebedsnetwerk vir Potch. Stoor die nommer 071 569 2086 op jou foon en stuur jou naam en van na dieselfde nommer om gereelde WhatsApp’s te ontvang vir voorbidding,” sê hy. Toegang is gratis.
Meer inligting kan verkry word by www.itstimepotch.co.za of op facebook.
* Oom Angus beplan ook om binnekort weer ’n nasionale gebedsaamtrek te hou.



