
ʼn Man is vanoggend (30 Augustus) omstreeks 11:00 buite ʼn winkel in Rivierstraat deur drie gewapende rowers gedreig voordat hulle sy werkgewer se bakkie deursoek het.
Shadrack Brown en sy werkgewer Jurgens Bence was vroeër vanoggend na ʼn winkel in Rivierstraat waar hulle aan die elektriese bedrading moes werk. Hulle moes toe onderdele gaan koop en het omstreeks 11:00 teruggekeer na die winkel om die werk klaar te maak.
“Ons het uit my bakkie geklim en toe ek die sluit-knoppie druk, sien ek dat die deure nie sluit nie,” vertel Jurgens. Hy sê dat hy ʼn paar keer probeer het, maar toe besef het iemand is moontlik besig om die afstandbeheerder se sein te blok.
“Ek het eers ʼn ruk by die bakkie bly staan en probeer kyk of iemand ons nie dophou nie, maar ek het niemand gesien nie. Toe vra ek vir Shadrack om maar eerder by die bakkie te bly terwyl ek in die winkel ingaan,” sê hy.
Shadrack sê net toe Jurgens die winkel in is, het ʼn motor met ʼn Gauteng-nommerplaat agter die bakkie stilgehou. Drie gewapende mans het uit die motor geklim en vir hom gesê hulle gaan die bakkie deursoek en as hy hulle probeer keer, hulle hom sal skiet.
“Hulle het vir hom gesê hulle sal vat wat hulle wil en vir hom gevra of hy regtig sy lewe op die spel wil plaas vir ʼn ander man se bakkie,” vertel Jurgens.
Toe Jurgens uit die winkel kom was die mans weg. Shadrak het toe aan hom gesê dat die mans die bakkie deursoek, maar niks geneem het aangesien daar geen waardevolle items in die bakkie was nie. Shadrak het deur dit alles met sy selfoon in sy hand gestaan sonder dat die mans dit by hom geneem het.
Jurgens en sy vriendin Mariaan Jordaan is op Saterdagoggend 14 Julie ook in hul huis in Malvastraat deur ses gewapende mans oorval en vir vyf ure aangehou terwyl hul huis besteel is.



