Gimmies en Volkies se eerstespanne gereed vir groot stryd
1 September is algemeen bekend as die begin van heerlike lente, maar vir Volkies en Gimmies se eerste krieketspanne sal hierdie Saterdag ook die kans gee om te sien wie in hulle titaniese tweegeveg gaan blom. Volkies en Gimmies se eerste en o.15-spanne speel om 09:00 teen mekaar op Volkskool se velde en soos gewoonlik …
1 September is algemeen bekend as die begin van heerlike lente, maar vir Volkies en Gimmies se eerste krieketspanne sal hierdie Saterdag ook die kans gee om te sien wie in hulle titaniese tweegeveg gaan blom.
Volkies en Gimmies se eerste en o.15-spanne speel om 09:00 teen mekaar op Volkskool se velde en soos gewoonlik behoort dit weer ‘n taai stryd te wees. Die laaste keer toe Gimmies en Volkies se eerstes mekaar aangepak het, het Volkies die Noordwestitel met slegs 1 paaltjie verower.
As ‘n mens wel na die telkaarte in vanjaar se Noordwes Premierliga kyk, blyk dit dat Volkskool vanjaar die sterker span op papier het, veral nadat hulle kolwers vir KHS afgeransel het met ‘n massiewe beurt van 557/3 na 50 boulbeurte en ‘n gepaardgaande 392-lopie oorwinning.
Gimmies het hulle wedstryd teen Lichtenburg met 46 lopies verloor en sal graag wil wys dat dit net ‘n moeilike dag op die veld was en nie tekenend van ’n goeie seisoen tot dusver is nie.
Gimmies sit wel sonder die begaafde krieket-tweeling, Marco en Duan Jansen vir dié belangrike wedstryd, met die dat hulle o.19 proewe speel. Gimmies se afrigter, Wian Lubbe, was wel steeds vol selfvertroue en glo dat hulle veldwerk en kolfwerk hulle sterkpunte gaan wees.
Ricus Swart van Gimmies sal ‘n fakor met sy draaiballe wees.
Foto’s: Wouter Pienaar
“Ons maak baie staat op ons veldwerk om lopies te beperk en op ons kolfwerk om ons deur te dra. Jong spelers soos Dirco Bester en Junior Mathe het tot dusver puik seisoene en ons glo dat ons steeds sonder die tweeling ‘n sterk vertoning kan lewer,” het Lubbe gesê.
Volkies se afrigter, Andries Huisamen, was vol lof na sy span se uitstekende begin dié seisoen waar die verdedigende kampioene veral met hulle kolfwerk beïndruk.
“Ons kolwers soos Van Zyl Smit, Martin Fourie en Christiaan Bester, wat honderdtalle aangeteken het teen KHS, het nie net gegaan en los houe geslaan nie, maar doelgerig gekolf en goeie lopies aangeteken. Ek glo die span is geestelik goed voorberei en dat die selfvertroue hoog is. Ons draaiers glo ek sal ook ‘n verskil maak op ons blaaie met ‘n ou soos André Taljaard wat ‘n faktor sal wees. Enige Volkie-Gimmie wedstryd is wel altyd ‘n gelykmaker,” het Huisamen genoem.
*Gimmies en Volkies se o.15A-spanne speel op Gimmies se velde.
Eerstespanne:
Gimmies:
Ricus Swart, 2. Landré Halgryn, 3. Robert Cameron, 4. Adriaan Rontgen (kaptein), Dawie Rontgen, 6. Simpiwe Mkhwanazi, 7. Ronald Hendricks, 8. Frans Viviers, 9. Junior Mathe, 10. Gerhard Turkstra, 11. Dirco Bester
Volkies:
1.Martin Fourie (kaptein), 2. Awie Visser (onderkaptein) 3. Christiaan Bester 4. Van Zyl Smit, 5. André Taljaard, 6. Christopher de Freitas, 7. Jannie Claassens, 8. Waldu Kotzé, 9. Jaco Viljoen, 10. Lucian Coakley, 11. Ervie Griessel.
https://www.nbcarsales.co.za/
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.