
‘n Vier maande oue hond is Dinsdag (18 September) deur Paws op beslag geneem.
Dit nadat dit aan die lig gekom het dat die hond vir ‘n geruime tyd met ‘n tou om sy nek vasgemaak is.
Volgens Elloise Rootman, inspekteur by Paws, het hulle ‘n oproep gekry van ‘n vrou in Promosa wat vir hulp gevra het. Volgens dié vrou was haar hond baie siek. Met aankoms het Paws gesien dat daar ‘n tou styf om die hond se nek vasgemaak is.

Paws het die tou afgeknip waarna die hond na Paws se veearts geneem is vir behandeling.
Volgens Rootman het hulle vir die vrou gevra om die hond aan Paws oor te teken. Die veearts Dr. Stallone het die hond behandel wat tans by Paws aansterk.
“Hy is ‘n baie liefdevolle, op en wakker hondjie,” het Rootman gesê.
Die eienaar van die hond het hom glo vasgemaak omdat hy te wild is. Hulle was ook bang dat die hond uit die erf kom en mense byt. ‘n Saak van dieremishandeling word teen die eienaar ondersoek.




