’n Man (53) wat volgens dokters net ses maande oor het om te leef, vra die gemeenskap se gebede om ’n wonderwerk moontlik te maak.
Potchefstromers Lucas en Cecillia Nell het die afgelope paar weke deur ’n baie moeilike tyd gegaan toe Lucas ernstig siek begin word en verlede week met ’n baie aggressiewe kanker in sy pankreas gediagnoseer is.
Hoewel ’n dokter vir Lucas gesê het dat hy, as hy gelukkig is, nog net ses maande gaan leef, glo die gesin dat met gebed, ’n wonderwerk wel nog moontlik is.
Lucas is sy lewe lank ’n getuie van hoe moeilike tye hom nie daarvan kon weerhou om die Here se naam te verkondig nie. Hy het al deur diep waters gegaan maar tot vandag toe glo hy en Cecillia dat die Here hom weer daardeur sal dra.
Reeds in sy ma se baarmoeder het Lucas se ongebore liggaampie seergekry toe sy swanger ma erg aangerand was.
Lucas is as gevolg daarvan met ’n abnormale ruggraat en ’n verkorte been gebore. Sy heup moes geopereer word. Die operasie was nie ‘n sukses nie, wat hom met penne in sy heup en ’n nog korter been gelaat het.
Lucas het as kind ’n besondere sangstem gehad en het verskeie kere opgetree. ’n Platemaatskappy het hom ’n kontrak aangebied, maar met sy pa se dood toe hy 14 was, het dinge baie verander aangesien sy ma hom, sy twee broers en suster alleen moes grootmaak.
Lucas het na skool vloot toe gegaan, maar het in daardie tyd besef dat die Here ’n ander plan met hom het. Hy het sy roeping gekry en het as ’n pastoor gaan studeer. Hy het ook ’n liefde vir die skryf van draaiboeke gehad.
Hy is later met Cecillia getroud en saam het hulle al nader aan die Here beweeg en ’n sendingaksie begin waar hulle gebedskussings maak en het na plakkerskampe uitgereik.
Die idee was dat die gebedskussings sou lei na ’n boek wat Lucas wou skryf oor plaasmoorde en wit plakkerskampe.
Cecillia sê hoe nader hulle aan hul groot taak gekom het, hoe erger het “die bose hul probeer terughou”. Lucas het in 2009 ’n hartaanval gehad en moes ’n stent kry. Daarna het sy gesondheid agteruit gegaan en vroeër vanjaar het Lucas erge pyn in sy maag begin ervaar, gepaard met naarheid en braking.
Aangesien die gesin nie ’n mediese fonds het nie, het hulle baie ure en met baie moeite by ’n verskeidenheid staatshospitale deurgebring om te probeer bepaal wat met Lucas fout is.
Nadat hy verskeie kere verkeerd gediagnoseer is, het ’n familievriend besluit om Lucas geldelik te help om verlede week by Mooimed hospitaal vir ’n skandering te gaan.
Daar het hy die nuus gekry dat hy pankreaskanker het. Aanvanklik het hulle gedink daar is hoop, maar nadat Lucas Donderdag ’n chirurg gaan sien het, is hy die nuus meegedeel dat die kanker te ernstig is. Dit kan nie uitgesny word nie en chemoterapie gaan nie werk nie.
Lucas het volgens sy dokters maksimum ses maande oor om te leef. Lucas, Cecillia en hul goeie vriendin, Loraine Lessing, glo egter dat Lucas genees kan word. Die gesin vra die gemeenskap om te help bid vir Lucas – dat sy pyn minder word en dat ’n wonderwerk hom langer sal spaar.
Enige finansiële bydraes vir Lucas se pynmedikasie word ook waardeer.
Skakel Loraine by 082 304 9683 of Cecillia by 079 105 1097 vir meer inligting.
Cecillia en Lucas sê dankie aan Loraine en Petro Lessing, sowel as Louis en Annette Fourie vir hul bystand en gebede. Ook dr. Maree Botha en sy personeel vir hulle hulp en ondersteuning.




