SportSport

Nuwe Volcano Superliga ‘n groot geleentheid vir Potch Dorp Rugbyklub

Die Luiperds, Valke en Blou Bulle Rugbyunies het die afgelope naweek met groot opgewondenheid die nuwe Volcano Superliga aangekondig wat ‘n groot hupstoot vir klubrugby gaan wees. Negentien top klubs vanuit hierdie drie unies, wat die plaaslike Potchefstroom Dorp Rugbyklub insluit, gaan aan hierdie kompetisie deelneem wat vanaf Mei tot September 2019 gaan plaasvind. Hierdie …

Die Luiperds, Valke en Blou Bulle Rugbyunies het die afgelope naweek met groot opgewondenheid die nuwe Volcano Superliga aangekondig wat ‘n groot hupstoot vir klubrugby gaan wees.

Negentien top klubs vanuit hierdie drie unies, wat die plaaslike Potchefstroom Dorp Rugbyklub insluit, gaan aan hierdie kompetisie deelneem wat vanaf Mei tot September 2019 gaan plaasvind.

Hierdie kompetisie gaan uit drie ligas, naamlik die Super A liga, Super B liga en ‘n Super o.20 liga bestaan. Potchefstroom Dorp sal die Luiperds in die Super B liga (Volcano Trofee) verteenwoordig, terwyl Impala Rugbyklub (Rustenburg) in die Super A liga sal deelneem.  Die Super A liga klubs sluit in Tukkies, Naka Bulls, Centurion, QBR, Impala, Springs, East Rand United en Northam. In die Super B-liga sal 11 spanne naamlik Tuine, TUT, Korrektiewe Dienste, Dragons, Pretoria, Brakpan, Vereeniging, NWU-Vaal, Boksburg, Klerksdorp en Potch Dorp sake uitspook. Volgens Potch Dorp Rugbyklub se hoofafrigter, Jan Weideman, heers daar groot opgewondenheid oor hierdie nuwe liga.

“Dit is fantastiese nuus vir ons en gee ons klub die geleentheid om ons spanne in orde te kry. Ons gaan met vier spanne speel wat ‘n 1ste, 2de, 3de en o.20-span insluit. Dit gaan baie geleenthede vir spelers gee om betrokke te raak by die klub. Dit gaan ‘n geweldige goeie kompetisie wees, aangesien baie spanne ook deel van die Carltonbeker was.”

Weideman meen ook dat gesonde kompetisie juis goed vir Potch Dorp is, aangesien dit die klub se voortbestaan versterk.

“Spelers gaan nou ook die geleentheid kry om meer blootstelling te kry en kan dan by die Valke, Bulle of Luiperds raakgesien word, waarna hulle na provinsiale vlak kan opbeweeg. Dit is goed vir klubrugby,” sê hy.

Nog ‘n bonus vir die klubs is dat die spanne se reiskostes betaal sal word – iets wat in die afgelope tyd problematies was weens die afstande wat klubs na wegwedstryde moes reis.

“Ek is baie opgewonde dat die reeks versterk sal word met bykomende klubs wat nou aansluit. Ek hoop dat hierdie kompetisie die gaping sal vul wat die gekanselleerde Nasionale Amateurkompetisie gelos het. Spelers sal weekliks op ‘n baie mededingende vlak teen mekaar kompeteer,” het die HUB van die Blou Bulle Rugbyunie en voormalige Luiperds HUB Eugene Hare genoem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button