Attie en span maak BRICS-uitstalling moontlik
Die geleentheid was die afsluiting van Suid-Afrika se jaar as die gasheer van die BRICS-lande, en die geleentheid is deur die Department van Kuns en Kultuur (DKK) gevier met ’n fotografiese uitstalling waaraan fotograwe van Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika deelgeneem het.
Sonder die harde werk van drie Potchefstromers sou ’n BRICS-fotografiese uitstalling in Kimberley nie die lig gesien het.
Prof. Attie Gerber, Lynette Smith en Johann du Toit het binne twee weke vyftig foto’s verwerk, gedruk, geraam en betyds vir die gala-opening in Kimberley besorg.
Die geleentheid was die afsluiting van Suid-Afrika se jaar as die gasheer van die BRICS-lande, en die geleentheid is deur die Department van Kuns en Kultuur (DKK) gevier met ’n fotografiese uitstalling waaraan fotograwe van Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika deelgeneem het.
Elke land het tien foto’s oor kulturele gebruike bygedra, en Suid-Afrika se foto’s is deur prof. Gerber van die Noordwes-Universiteit voorsien. Hy het al die lande se foto’s drukgereed gemaak, asook die drukwerk en raam van die foto’s georganiseer. “Ons het slegs twee weke voor die opening op 14 November by die nasionale kunsgalery in Kimberley die groen lig van DKK gekry, en toe eers die foto’s van die ander lande ontvang,” sê prof. Gerber. “Dit was ’n algehele gekspul, maar Johann du Toit van PrintCafé en Lynette Smith van Lynette Rame het ’n wonderwerk verrig. Twee dae voor die opening het Johann 50 geraamde foto’s in Kimberley gaan aflewer.”
Gerber het die opening bygewoon wat deur die Noord-Kaapse LUR vir sport, kuns en kultuur, me. Bongiwe Mbinqo-Gigaba, geopen is. Hy het ook ’n rondleidingspraatjie vir die BRICS-verteenwoordigers gehou.
Die uitstalling duur tot 14 Desember in die William Humphreys Nasionale Kunsgalery in Kimberley.