’n Rivier het vir byna ’n week voor Boys High in die pad afgeloop voordat die munisipaliteit dit Woensdag reggemaak het.
Liters drinkwater het die teer in die pad opgestoot en ’n dam in Beyers Naudelaan veroorsaak.
Volgens munisipale woordvoerder Willie Maphosa was die groot waterlek weens ’n gebarste pyp wat veroorsaak is deur te veel drukking in die waterreserwes.
“Met die hittegolf wat ons tans ervaar is daar ’n groot aanvraag na water, wat die drukking in die reserwes destabiliseer,” sê Maphosa. Hy sê dat dit die gebarste pype veroorsaak en dat die ooste en suide van die stad die swaarste hierdeur geaffekteer word.
“Die munisipaliteit wil graag die gemeenskap maan om water spaarsamig te gebruik. Ons vra dat mense nie hul swembaddens moet volmaak of tuine so gereeld moet water gee tot die hittegolf verby is nie,” sê hy.
Hy sê ook dat inwoners eerder emmers met water moet gebruik wanneer hulle hul voertuie was of opritte skoonmaak eerder as om water met ’n tuinslang te spuit.