‘n Potchefstroomse weldoener met ‘n diep liefde vir diere, Zalizna Smit, het verlede jaar met ‘n projek begin om die troeteldiere van PAWS te help.
Met toestemming van PAWS-voorsitter Darren Kruger en met behulp van Picture Café, het sy met ‘n kalenderprojek vorendag gekom om fondse vir PAWS in te samel. Die pragtige kalenders bevat professionele foto’s van die pragtige troeteldiere in PAWS se hokke.

Hoewel baie van die troeteldiere in die kalender reeds aangeneem is, wil Smit hierdie projek ook gebruik om mense te herinner aan hoe baie honde en katte in hokke sit en wag vir hul nuwe huis.
Smit is reeds van kleintyd af mal oor diere, maar het nooit gedink dat sy ooit ‘n troeteldier sou aanneem nie. Dié jong vrou is tans die trotse eienaar van twee PAWS honde en sy het nog ‘n PAWS hondjie wat in haar pleegsorg is.

“Ek is al drie jaar ‘n vrywilliger by PAWS en sal seker vir die res van my lewe wees,” sê sy.
Sy sê PAWS het haar siening oor aanneem-diere verander aangesien sy in die verlede eerder ‘n troeteldier by ‘n teler sou koop, maar het toe eerder besluit om aan te neem.
“Daar is net soveel diere wat in hokke sit en vra vir ‘n liefdevolle huis, en dit is wat my lewe verander het. Ek wou nog altyd ‘n labrador gehad het en ek het gewag tot daar een by PAWS aankom. Ek het ‘n ou labrador aangeneem wie se mense nie mooi na haar gesondheid gekyk het nie en sy was doof. Sy is weens diabetes, wat haar later blind gemaak het tot sy nie meer kon eet nie, oorlede.”

Zalizna se hart was in twee geskeur. “Ek het nooit gedink mens kan so lief raak vir ‘n weggooi hond soos ek vir haar was nie.”
Sy daag mense uit om PAWS te help. “As jy nie kan aanneem nie, doen pleegsorg. As jy nie pleegsorg kan bied nie, doen vrywillige werk of maak ‘n donasie.
“Wat sou Potchefstroom sonder PAWS gedoen het? Wys jou dankbaarheid aan die wonderlike mense wat 24 uur op bystand is vir die diere.”
Om kalenders te bestel, skakel Zalizna by 072 457 2424 of besoek PAWS, PrintCafé of Mooi Gallery.




