
Die polisie waarsku studente om nie hul skootrekenaars of enige ander waardevolle items in voertuie te los nie. Die Herald het onlags berig van ‘n groot hoeveelheid skootrekenaars wat in sowat ‘n week se tyd gesteel is. In meeste van die gevalle is die skootrekenaars vanuit voertuie gesteel.
Op Donderdag 14 Februarie omstreeks 22:45 is nog ‘n skootrekenaar vanuit ‘n motor in Molenstraat gesteel.
Kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, sê ‘n student het sy motor buite ‘n woonstelblok oorkant die NWU kampus parkeer. Hy het sy skootrekenaar onder die sitplek weggesteek en seker gemaak die motor is gesluit en alle vensters is toe.
Toe hy terug by sy motor kom, het hy gesien iemand het een van die vensters gebreek, die motor deursoek en sy skootrekenaar gesteel.
Daar was weer die afgelope week byna tien voorvalle van gesteelde skootrekenaars. Chaka sê studente moet nooit hul skootrekenaars in hul voertuie los nie.
“Misdadigers weet presies waar om te soek vir waardevolle besittings. Mense dink as jy jou besittings onder ‘n sitplek of in ‘n kattebak wegsteek, dit veilig is, maar dit is nie. Dit is die eerste plek waar misdadigers soek,” sê Chaka.



