Naellope is haar kos
Ferdies se witblits naelloper, Zia Pieterse (15) is een van haar skool se topatlete en sy het haar talent en ywer bewys toe sy by Noordwes B-liga interhoër as die Senior Victrix Ludorum aangewys is. “Dit was nou werklik een van my groot hoogtepunte hierdie jaar waaroor ek ontsettend bly is,” vertel Pieterse blinkoog, voordat …
Ferdies se witblits naelloper, Zia Pieterse (15) is een van haar skool se topatlete en sy het haar talent en ywer bewys toe sy by Noordwes B-liga interhoër as die Senior Victrix Ludorum aangewys is.
“Dit was nou werklik een van my groot hoogtepunte hierdie jaar waaroor ek ontsettend bly is,” vertel Pieterse blinkoog, voordat sy verder haar passie vir atletiek beklemtoon.
“Ek het van jongs af van atletiek gehou en doen nog altyd naellope. Ek hou net daarvan om vinnig te hardloop en my beste te gee. Ek doen tans die 100m, 200m en 400m. Die 400m maak ‘n mens nogal moeg, maar dit is beslis nou my gunsteling-item omdat ek uithouvermoë het,” noem Pieterse.
Pieterse se liefde vir atletiek het op Laerskool begin in Potchefstroom by Laerskool Mooirivier. Sy het wel later die skool verlaat en het tuisonderrig (graad 7) ontvang voordat sy hoërskool toe is. “Ek het toe vir Laerskool Baillie Park atletiek gedoen en dit baie geniet. Omdat ek na ‘n Engelse skool (Girls High) toe is in graad 8, het my ouers besluit dat ek eers een jaar tuis skoolgaan om die Engels mooi onder die knie te kry,” noem sy.

Pieterse se atletiek het toe mooi begin wortel skiet op hoërskool en sy het vir ‘n jaar en ‘n half puik presteer in Girls High se atletiekdrag.
“Ek was vir twee jaar by die SA Skole Atletiekkampioenskappe vir 100m en ook verspring, maar omdat ek my been gebreek het voorheen, het ek besluit om op naellope te fokus.”
Pieterse noem ook dat haar krag en talente van Jesus af kom en dat dit een belangrike aspek van haar voorbereiding is om net rustig te wees en te weet dat Hy vir haar sal sorg.
“Ek is baie Christelik en geloof dra my baie deur. Ek glo ook my hokkie help ook met my fiksheid en krag sodat ek ‘n beter atleet kan wees,” sê Pieterse, wat ook ‘n kranige hokkiespeler is. Ondersteuning speel ook ‘n belangrike rol tot haar sukses en Pieterse is veral dankbaar vir haar ouers se konstante bemoediging sowel as haar atletiekafrigter, Shaun Bownes en privaat afrigter, Waldi Bosman.
“My droom is om in die finaal van die SA’s te wees in ‘n naelloop-item. Ek weet dit gaan harde werk vat, maar wat ek die afgelope tyd geleer het, is om selfaanvaarding te leer en net my beste te gee. ‘n Mens doen net wat jy kan tot die beste van jou vermoë.”’




