
’n Man is in hegtenis geneem nadat hy ’n motoris op 24 Februarie gekaap het.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die motoris omstreeks 03:10 die oggend in Nelson Mandelarylaan (N12) gery.
Hy het glo by ’n verkeerslig op die hoek van Ross-straat stilgehou, waar een motor voor hom gestaan het.
“Toe die verkeerslig na groen oorslaan, het die motor wat voor hom was, nie gery nie en die pad geblokkeer,” sê Manyoba.
Vier mans het toe uit die motor geklim en na die man se motor geloop. Een van hulle het ’n vuurwapen uitgehaal, op die man gerig en vir hom gesê om sy motor oop te sluit.
Die man het die mans gesmeek om sy motor te vat, maar om hom net uit te los.
Die mans het toe al die mans se besittings, insluitend sy skoene, gevat en met sy motor weggery.
Volgens Manyoba is die voertuig danksy ’n opsporingstoestel wat in die motor was, opgespoor. Een van die rowers, Ngwako Aiso, is in hegtenis geneem.



