
Op Vrydag 22 Februarie is twee mense beroof terwyl hulle in hul motor in Esselenstraat was.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het ’n man en sy vriendin omstreeks 19:30 by ’n verkeerslig in dié straat stilgehou toe ’n grypdief die ruit aan die passasierskant stukkend geslaan en die vriendin se beursie gegryp en weggehardloop het.
Manyoba sê diefstal vanuit voertuie is besig om erg toe te neem, veral op die Bult-area en die sentrale sakegebied.
Skootrekenaars word ook gereeld uit voertuie wat buite woonstelblokke parkeer is, gesteel.
Stasiebevelvoerder brig. Steven Moodley gee ’n paar algemene veiligheidswenke oor hoe om nie ’n sagte teiken vir die tipe misdadigers te wees nie.
• Maak seker daar is genoeg spasie tussen jou voertuig en die voertuig voor jou sodat jy kan wegry indien iets gebeur.
• Wees versigtig vir mense wat by kruisings staan. Hulle kan onskuldig wees, maar hulle kan ook misdadigers wees wat hul kans afwag om jou te beroof.
• Hou jou deure gesluit en jou vensters toe wanneer jy in jou voertuig is en moet nooit ’n deur oopmaak of ’n venster afdraai vir ’n vreemdeling nie.
• Maak seker geen handsakke, selfone, skootrekenaars of enige ander waardevolle items is iewers in die voertuig waar dit sigbaar is vir ander nie.
• Wees altyd bewus van wie en wat om jou is en wees altyd op jou hoede wanneer jy by ’n kruising kom, of iewers stilhou.
• Moenie jou venster afdraai en met straatverkopers of mense wat pamflette uitdeel gesels nie.
• Wees altyd op die uitkyk vir verdagte aktiwiteite rondom jou en vertrou op jou instink.
• Wanneer jy in die nag ry en ’n verkeerslig voor is rooi, verminder jou spoed vroegtydig sodat wanneer jy by die verkeerslig kom, dit groen oorslaan en jy net verder kan ry.
• Indien jy items soos klippe of bande in die pad kry, moenie uit jou voertuig klim om dit weg te vat nie. Draai eerder om en neem ’n ander roete.



