NewsNews

Van die Redakteur: Bultprojek maak tasbare verskil

Dit lyk of daar nuwe lewe op die Bult ingeblaas word.

Die Bult is besig om ‘n karwagvrye area te word, slaggate word reggemaak, rowers word gevang en dwelmhandelaars is ook nou besig om die druk op die Bult te voel.

Dit alles nadat belanghebbendes op die Bult insluitend die NWU, besigheidseienaars en inwoners saam getrek het om die Cachetpark CID te stig.

Dié Bultprojek het reeds verkeie suksesse opgelewer. Veral in terme van sekuriteit in die area. Maar ook in die verfraaing van die area, daar word tans plaveisel op  Cachetpark aangebring en slaggate word in die area herstel.

Die Herald het in 2017 al berig oor die agteruitgang van die Bult. As oudstudent van die NWU Potchefstroomkampus was dit duidelik om te sien hoe die karakter van die Bult  sedert my eie studentedae verander het.  Misdaad was ‘n groot probleem. Ouers was baie benoud oor hulle kinders se veiligheid in die area. Die verskeie insidente waaroor berig is, aanranding, moord, rooftog was vir almal duidelik om te sien.

Met elke artikel wat oor misdaad op die Bult gegaan het, het ek met studente gaan praat oor hulle gevoel oor die Bult se veiligheid, die reaksie van studente was altyd negatief gewees. Die Bult van 10 jaar gelede was heeltemal onherkenbaar.

Ek het verlede week vir die eerste keer sedert die begin van die Bultprojek dié area gaan besoek. Die verskil was merkwaardig. Dit het gelyk of daar nuwe lewe op die Bult ingeblaas is. Die strate was weer vol studente in plaas van  karwagte en leegleërs. Die gevoel van klou aan jou selfoon en beursie het nie soos ‘n donderwolk oor jou gehang nie. In kort ek het veilig gevoel.

Alhoewel daar steeds probleme is, soos die bakleiery oor naweke buite die kuierplekke en  dwelms wat  nog ‘n probleem is, is die karakter van die Bult besig om terug te kom. Die kamerastelses wat deur Mooirivier Beskerming 24/7 gemonitor word het onlangs gehelp om onder andere vermeende rowers en ‘n bekende dwelmsmous in hegtenis te neem. Die NWU doen dan op sy beurt ook wat hy kan om wangedrag stop te sit. Onlangs is drie studente van aanranding aangekla, na ‘n bakleiery op die Bult. Die NWU het dadelik opgetree en die studente voorlopig uit die universiteit en uit die koshuis geskors. Hulle stuur ‘n duidelik boodskap aan studente wat hulleself aan hierdie tipe gedrag skuldig maak.

Die projek is nou besig om te groei. Daar is onlangs afgekondig dat die afgebakende area sal groter gemaak word, ek hoop en glo dat die plan  is om uiteindelik die hele stad onder die CID vaandel te bring. Of tenminste iets soortgelyks in elke buurt op die been te bring.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button