Amira open 13de speelgrond
Die bekende jong sangerres, Amira Willighagen, het op Woensdag, 21 Augustus die 13de speelgrond by Tshupane Laerskool in Ikageng geopen.
Die bekende jong sangerres, Amira Willighagen, het op Woensdag, 21 Augustus die 13de speelgrond by Tshupane Laerskool in Ikageng geopen.

Amira is nie net vir haar pragtige stem bekend nie, maar ook vir haar liefdadigheidswerk, want sy het vyf jaar gelede ‘n liefdadigheidsorganisasie, “Gelukskinders” gestig om speelaparaat vir kinders te borg. Daarmee saam rig hulle die speelgronde by minderbevoorregte skole in en om Potchefstroom op.
Tshupane Laerskool het twee speelgronde gekry en het hierdie feestelike geleentheid met ‘n klein “skoolkonsert” gevier. Amira en Siki Jo-An asook skoolkore het vir uitgesoekte gaste en skoolkinders opgetree.
Van die uitgesoekte gaste by die openingsgeleentheid was Amira se skoolhoof van Hoërskool Volkskool, Terry Nicholenas, ‘n filmspan van Holland en ‘n Amerikaanse aanhanger. Die filmspan het die verrigtinge gedokumenteer wat later vanjaar op een van die Nederlandse televisiekanale uitgesaai word. Die Amerikaanse aanhanger, Jan Andzelm het so ver as North West, Maryland gereis om die openingsgeleentheid by te woon. Jan het haar musiek twee jaar gelede ontdek en is veral met haar liefdadigheidswerk beïdruk.

Amira was slegs nege jaar oud toe sy “Hollands’ got talent” in 2013 gewen het. Sy en haar broer, Finsent is in Nijmegen, Nederland gebore. Hulle het gereeld vir hulle ouma in Potchefstroom kom kuier en was aanvanklik verbaas omdat die dorp en sommige skole nie speelgronde vir kinders het nie. In Nederland is daar in elke buurt en by elke skool ‘n speelgrond.
Weens haar baie sangoptredes in Suid-Afrika het die familie hul in Potchefstroom gevestig. Sy en Finsent is leerlinge van Hoërskool Volkskool en is baie gelukkig in die sonnige Suid-Afrika.
In Julie en Augustus vanjaar, het Amira ses nuwe speelgronde in en rondom Potchefstroom geopen. Van die skole wat so gelukkig was om ‘n nuwe speelareas te kry, was Ourief, Ikalafeng, Laula Fourie (Chubby Chick) en Tshupane. Laula Fourie en Tshupane het elk twee speelareas ryker geword.



