CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Makweteng – dié woonbuurt se verbintenis met Promosa

Inwoners van Promosa vier hierdie Oktober hul 50 jarige bestaan. "Van Makweteng tot nou" was die slagspreuk van hul feesvierings. Min Potchefstromers weet egter vandag waar die naam, Makweteng vandaan kom en wat hierdie ou woonbuurt van Potchefstroom se verbintenis met Promosa is.

Inwoners van Promosa vier hierdie Oktober hul 50 jarige bestaan. “Van Makweteng tot nou” was die slagspreuk van hul feesvierings. Min Potchefstromers weet egter vandag waar die naam, Makweteng vandaan kom en wat hierdie ou woonbuurt van Potchefstroom se verbintenis met Promosa is.

Om Makweteng se geskiedenis te verstaan, moet jy ver in die setlaarsgeskiedenis van vroeë Potchefstroom ingaan. Wit nedersetters het aan die begin van die 19de eeu saam met hulle bediendes op burgerreg erwe in Potchefstroom gewoon. Die bediendes was vry slawe, Xhosa’s en bruin mense wat saam met die Afrikaanssprekende immigrante van die Oos-Kaap getrek het.

Teen 1871 het die Potchefstroomse inwoners gekla oor die swart dorpsbewoners se “onstuimige” (raucous) gedrag. Die magistraat het ook klagtes ontvang van swart mense wat onbewoonde erwe beset het.
Teen 1877 het die Zuid-Afrikaansche Republiek ‘n besluit geneem om ‘n aparte woonbuurt vir die bruin en swart mense in Potchefstroom te stig en het grond beskikbaar gestel om almal wat nie wit is nie, na die suidekant van die dorp te verskuif. Dié gebied het as Makweteng en later Klopperville bekend gestaan. Vandag ken ons die gebied as Miederpark.

In Maart 1888 was die eerste erwe en strate in Makweteng uitgelê met ‘n oop ruimte van 100 meter wat Makweteng van die blanke dorp geskei het. Dit was aan die suide van Maherrystraat en aan die oostekant van Walter Sisulustraat uitgelê. Die Indiese gebied was aan die weste kant van Walter Sisulustraat en het tot by Louwstraat gestrek.

In die Herald van 1950 word daar gerapporteer dat die bevolking van Makweteng tot 11 000 gegroei het. Al die beskikbare erwe was geneem en daar was nie meer plek om nuwe erwe vir aansoekers uit te lê nie. In dieselfde jaar word die Groepsgebiedewet deur die destydse Nasionale Party in werking gestel. Hierdie wet het die regering se Apartheidsbeleid ondersteun wat daarop neerkom dat verskillende dele van residensiële en sakegebiede in stede en dorpe eksklusief aan verskillende rasse toegeken is.

So is daar in 1958-1963 begin om swart mense van Makweteng na Ikageng, 8km wes van die dorp te verskuif. In 1962 het die stadsraad weer besluit om nuwe residensiële gebiede – Promosa vir die bruin mense en Mohadin vir die Indiërs – te ontwikkel. Promosa, afgelei van die woord “promise” is in 1968 voltooi en het die belofte vir ‘n beter woonbuurt ingehou.

Die skeiding van Makweteng was vir die inwoners ‘n groot skok. “Om skielik te moet oppak en ‘n groot huis met vrugtebome te verlaat vir ‘n tweevertrek woning waarin ons meubels nie kon inpas nie, was ‘n groot teleurstelling.”
So sê Tannie Pammy Stofberg wat as kind in Makweteng gebly het. Hulle nuwe huis het nie eens elektrisiteit gehad nie. “Die owerheid het ‘n mooi prentjie geskets en hier staan Promosa in ‘n oop vlakte,” vertel sy.

Ander inwoners is deur ‘n gerondtrek ontwring. Sydney Magobotla, ‘n voormalige kwaliteitsinspekteur van Naschem en later ‘n Anglikaanse predikant van Promosa, was maar 16 jaar oud toe die verskuiwings plaasgevind het.

Sydney Magobotla

Omdat sy van Magobotla was, is sy gesin eers na Ikageng verskuif. Hoewel hulle gesin verskillende tale kon praat, was hul moedertaal Afrikaans. Hulle is toe later weer teruggeskuif Makweteng toe, voordat hulle uiteindelik weer Promosa toe moes trek. Die meeste van die inwoners was baie ongelukkig omdat hulle nie in die saak geken is nie. “Wat moes ons doen? Ons het nie ‘n keuse gehad nie,” sê Sydney.

Patrick Williams was destyds in sy vroeë twintigs toe hulle skielik hoor hulle moes Promosa toe trek.
“Die munisipaliteit het by ons huis in Makweteng opgedaag en sommer met ‘n kwas en wit verf ons nuwe huis se nommer op ons huis se muur geverf. Ons het na Abrahamstraat 80 verhuis – een van die eerste huise in Promosa,” vertel hy.

Patrick Williams en sy vrou, Sylvia.

Vir hom was die grootste probleem om in Promosa te bly die ver afstand van die dorp. In Makweteng het hy ‘n tiekie betaal om dorp toe te ry met die bus. Nou het hulle baie verder uit die dorp gebly. “Vervoer was ‘n groot probleem as jy nie ‘n fiets gehad het nie, want daar was nie ‘n gereelde busdiens nie,” sê hy.

Patrick het sy swaarkrytyd amper met lighartigheid benader. “Ek en my broers het eerder grappies gemaak van dinge wat ons gepla het,” sê hy. Hy erken dat ‘n mens nooit die slegte dinge wat met jou gebeur sal vergeet nie. “Jy moet daaroor kan praat, maar jy moet nooit jou vreugde vir bitterheid verruil nie. My roeping is om te versoen en as ons dit preek moet ons dit ook leef,” sê hy.

Vir 22 jaar het mense in Potchefstroom nie ‘n keuse gehad waar hulle kon woon nie, totdat die politiek verander het en die Groepsgebiedewet in 1991 afgeskaf is.

Die nuwe ANC-regering het na 1994 daarvoor voorsiening gemaak dat mense vir hierdie verskuiwing vergoed kon word. Die Herald berig in Desember 2001 dat 657 geldige grondeise aanvaar is en dat die eerste agt grondeisers van Makweteng hulle R40 000 vergoeding vir die herstel van grondregte ontvang het. Die res van die grondeisers is in 2002 vergoed.

BRONNE:
• Gouws, L. 2018. Stories van/of Potchefstroom.
• Jansen van Rensburg, F. 2006. The first ‘white’ town north of the Vaal: inequality and Apartheid in Potchefstroom. New Contree, 51: May.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button