Prof. Dan Kgwadi is vir ‘n nog vier jaar as vise-kanselier van die Noordwes Universiteit (NWU) heraangestel.
Die NWU-raad het op 21 November tydens hul vergadering dié besluit geneem en hom vir sy diens tydens sy eerste termyn bedank. Hy is op 1 April 2014 aangestel en sy eerste termyn sou in Mei 2020 verstryk.
Prof. Kgwadi en die Raad se toekomsplanne sluit besprekings van spesifieke fokusareas in wat op konsolidering gemik is, asook die vordering wat tot dusver gemaak is. Verdere nasionale– en internasionale mylpale sal ook gestel word.
“Ek is baie dankbaar oor die mosie van vertroue – nie net in my nie, maar ook in die bestuurspan onder my leiding. Verder wil ek graag my dank uitspreek teenoor die breër NWU-gemeenskap, insluitende gewaardeerde belanghebbers soos ouers, alumni en ons sakevennote, vir hul volgehoue ondersteuning in ons strewe om ʼn internasionaal erkende universiteit in Afrika te wees wat vir sy wetenskapsbeoefening, maatskaplike verantwoordbaarheid en ʼn sorgsaamheidsetiek bekend is,” sê prof. Kgwadi.
Hy sê ook dat hy na sy volgende ampstermyn uitsien en saam met die universiteitsbestuur vasbeslote is om die NWU op sy trajek van sukses, vorentoe te neem.



