Die Herald berig in vandag (12 Desember) se koerant oor ’n bejaarde man wat gister (11 Desember) op die hoek van Govan Mbeki-rylaan en Viljoenstraat slaggate reggemaak het.
Aanvanklik het ons gedink die oom se naam is Hein, maar sy broer het ons vanoggend gekontak om te bevestig dat dit werklik oom Chris Heenop (62) is.
Talle nuwe slaggate het na die reën op die paaie van Potchefstroom opgeduik en baie oues het weer oopgespoel. Op die hoek van Govan Mbeki-rylaan en Viljoenstraat was dit so erg dat motoriste hul spoed heeltemal moes verminder om oor die pad te kom.
Chris het besluit om gister sy sonhoed op te sit, sy graaf te vat, en die slaggate op dié hoek toe te gooi. Een vir een het hy stoksielalleen die gate met nat grond wat langs die pad uitgespoel het, toegegooi. Nou en dan het ’n motoris langs hom stilgehou en hom ’n geldjie in die hand gestop.
Toe die Herald hom vra waarom hy besluit het om dit te doen, het hy verduidelik dat iemand dit moet doen. Sy broer, Johan, sê hoewel Chris spraakgestremd is, is hy baie slim en het hy sy eie inisiatief gebruik om die slaggate te gaan toegooi.
“Dit was al donker gisteraand toe hy eers by die huis ingekom het,” sê Johan.
Chris woon saam met sy broer en skoonsuster in ‘n huis in Geelhoutlaan. Baie mense het om al gesien aangesien hy daagliks op die hoek van Geelhout en Viljoen sit en hout, houtskool en vuuraanstekers verkoop. Potchefstromers kan gerus dié hulpvaardige oom ondersteun.




