Sowat een persent van die bevolking van China is Christene. Ek vlieg op 31 Desember na ’n land waar Kersfees net in groot stede gevier word. Mense hier weet bittermin van Kersfees en nog minder van die Christelike betekenis daaragter.
Ek het besluit om ’n bietjie meer inligting te deel oor hoe Kersfees in China gevier word sodat diegene wat soos ek in die toekoms dalk na dié land wil verhuis, ook weet waarna om uit te sien.
Hoewel Kersfees byna net in groot stede in China gevier word, doen hulle darem moeite om liggies en Kersbome oral in dié stede op te sit. In meer plattelandse gebiede word Kersfees glad nie gevier nie aangesien die Westerse invloede in daardie dele van China baie klein is.
In China word Kersvader ‘Shen Dan Lao Ren’ genoem. Dit beteken Goddelike ou man. In plaas van geseënde Kersfees sal jy in China die frase ‘Sheng Dan Kuai Le’ hoor.
In China sal jy sien hoe die posman soos Kersvader sal aantrek wanneer hy pos by huise aflewer.
Kersfees word al meer deur jongmense in China gevier en Kerspartytjies is besig om in groter stede gewild te raak. Tydens Kersfees gee jong paartjies ook vir mekaar geskenke, baie soos tydens Valentynsdag.
Min mense in China sal ’n Kersboom in hul huise opsit en die wat doen, sal dit met papierblomme, papierlanterns en ander papier-versierings opmaak. Hulle noem dit ook soms ’n boom van lig. Meeste Kersbome in China, kom egter net in winkelsentrums voor. Kersfees word meer as ’n kommersiële geleentheid gebruik.
Wat vreemd is, is dat die meerderheid van die plastiese Kersversierings wat ons aan ons bome hang, in China gemaak word, tog gebruik hulle dit selde om hul eie Kersbome te versier.
’n Tradisie wat onlangs begin gewild raak het in China is om appels op Oukersaand te gee.
Baie winkels sal appels toedraai in kleurvolle papier en dit so tydens Kerstyd verkoop.
Oukersaand staan in China as ‘Ping’an Ye’ bekend. Dit beteken ’n rustige en stil aand, wat van die Kerslied “Silent Night” afkomstig is.
Die woord vir appel in Mandaryn is ‘píngguǒ’, wat baie na aan die woord ‘vreedsaam’ klink. Die appel-gee tradisie het weens dié verbinding in China ontstaan.
Tydens Oukersaand sal party mense ook Kerssang-liedere in die strate gaan sing, hoewel min mense die betekenis van die liedjies verstaan. ‘Jingle Bells’ is ’n gewilde liedjie in China. Die meerderheid van die Kerssang-liedere word in Christene se huise gesing, en soms sal hulle selfs die Karaokemasjien aansit om mee saam te sing en dans.
Die werklike Christelike betekenis van Kersfees word slegs deur die een persent Christen Chinese gevier. Christene in China woon spesiale Kersdienste op Kersfees by, insluitend ’n middernag-Nagmaal. Chinese Christene sien hierdie dag as ’n baie belangrike dag en sal selfs meer moeite met Kersfees doen as met Chinese Nuwejaar. Hulle berei liedjies en aktiwiteite weke voor Kersfees voor.
Ek begin in Januarie Engels in Hangzhou gee. Hoewel Kersfees glad nie as ’n publieke vakansiedag in China beskou word nie, gee my skool dié dag af vir al hul Westerse werknemers.
Ek, my kêrel en my twee beste vriende gaan Kersdag saam spandeer en gaan seker maak ons deel geskenke uit en hou Kersfees lewendig in dié land waar dit byna glad nie gevier word nie.



