CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Man sterf na swak behandeling by Potch Hospitaal

Ralph Cawood (74) sterf op Woensdag 11 Desember van longinfeksie nadat sy voedingsbuis verkeerd ingesit is.

‘n Ontnugterde Ryno Cawood het die afgelope week, saam met sy familie, deur hel gegaan nadat sy pa, Ralph Cawood (74) verlede Woensdag (4 Desember) by die Potchefstroom Hospitaal opgeneem is.

Ryno het Woensdagaand die ambulans om 20:30 gebel nadat sy pa skielik nie kon praat of reageer nie. Daar het ook skuim by sy mond uitkom. Nadat ER24 hom by sy huis opgelaai en gestabiliseer het, is hy by ongevalle van die Potchefstroom Hospitaal opgeneem. Hy is daarna na Saal 2 en Vrydag na Saal 9 oorgeplaas. Die hospitaalpersoneel het vermoed dat hy het ‘n beroerte gehad het.

Met besoektyd, Donderdagmiddag (5 Desember) tussen 14:00 en 15:00, het Ryno gemerk sy pa haal diep asem en het hartkloppings. Hy was onrustig en het angstig gelyk. Hy het toe die verpleegpersoneel genader wat saam in ‘n kantoor gesit het. Hulle het gesels en gelag en toe hy hulle vra om na sy pa te kom kyk, het hulle volgens hom, hom bloot geïgnoreer.

Ryno het Donderdag en Vrydag daarop aangedring om met ‘n dokter te praat wat sy pa se toestand kon verklaar en telke male het die verpleegpersoneel glo geweier dat Ryno na sy pa se lêer kyk. Hulle het gesê hulle sal terugvoering aan hom gee, maar het dit nooit gedoen nie.  Die verpleegpersoneel het nie naamplaatjies gedra nie en wanneer hy hulle name wou weet, het hulle geweier om dit vir hom te gee. Vir Ryno was dit baie ontstellend om te sien in watter slegte toestand sy pa is en niemand kan vir hom sê wat fout is nie.

Vrydagmiddag (6 Desember) met besoektyd het ‘n verpleegster teenoor Ryno opgemerk dat sy pa nie wil praat of eet nie. Dit was vir hom vreemd dat die verpleegster die opmerking maak, want volgens hom dui dit daarop dat die verpleegpersoneel nie geweet het wat sy pa se toestand is nie “My pa kon nie praat of eet nie, want hy was nie daartoe instaat nie”, sê Ryno. Hy het Vrydagaand met besoektyd aangedring dat iemand aandag aan sy pa gee omdat sy bloeddruk te hoog is. ‘n Suster het na bewering na Ryno se ma toe geloop, vir haar ‘n bloeddrukpil gegee en gesê sy moet dit vir hom gee. Dit, nadat hy nie kan sluk nie.

Saterdag (7 Desember) het Ryno besef hy moet dit onder iemand se aandag bring dat sy pa nog nie voeding gekry het nie. Sy pa kon nie sluk nie en daar was nie ‘n voedingsbuis aan hom gekoppel waardeur hy voeding kon kry nie. Hy was desperaat en het ‘n afgetrede suster, wat voorheen by die hospitaal gewerk het, van sy pa se toestand ingelig. Sy het toe hospitaalpersoneel begin bel om die saak onder hulle aandag te bring. Hoewel Ralph die middag ‘n voedingsbuis ingehad het, was dit glo verkeerd ingesit omdat dit op sy tong gelê het. Volgens Ryno het die voedingsdruppe op sy bedkassie gestaan, maar was dit nie aan sy voedingsbuis gekoppel nie.

Hy het Saterdagaand weer daarop aangedring dat sy voedingsbuis reg ingesit word, maar niemand kon help nie. Sondag (8 Desember) was sy voedingsbuis verwyder en was dit teen die aand weer ingesit, maar die voedingsakke het glo steeds net so op sy bedkassie gestaan. Daar was wel ‘n skoon inspuiting aan sy voedingsbuis aangeheg. Intussen het Ralph se toestand al hoe meer versleg.

Woensdag (11 Desember) sewe dae nadat Ralph opgeneem was, kon sy familie vir die eerste keer ‘n mediese dokter oor sy toestand spreek. Volgens Ryno het die dokter bevestig dat Ralph longinfeksie het omdat sy voedingsbuis nie reg ingesit was nie en die voeding in sy longe ingegaan het.  Ralph is Woensdagaand rondom 20:30 oorlede.

Ryno is woedend oor sy pa se behandeling. “Die hospitaalpersoneel se swak kommunikasie, onbehulpsaamheid en onvermoë om hul werk reg te doen, het daartoe gely dat sy pa gesterf het. Sy liggaam het verswak omdat hy nie voeding gekry het nie en hy het longinfeksie opgedoen nadat die voedingsbuis verkeerd ingesit is. Die situasie is vererger met die verpleegpersoneel se onbeskofte, traak-my-nie-agtige houding en het sy lyding en ons laaste dae saam met hom hel gemaak”, sê hy.

Volgens die woordvoerder van Potchefstroom Hospitaal, Modiri Mompati, word alle pasiënte wat moontlik ‘n beroerte gehad het deur ‘n spraakterapeut vir aspirasie geassesseer.

Die spraakterapeut het Ralph die tweede dag nadat hy opgeneem is geassesseer en bevind dat hy slukreflekse het. Die tweede dag was daar eers probeer om Ralph puree-voeding te gee. Dit het nie geslaag nie.‘n Voedingsbuis is die derde dag ingesit.  Volgens Mompati het Ralph vloeistof binne-aars ontvang vandat hy opgeneem is.

Mompati sê verder dat die hopitaalpersoneel se onbeskofte en onbehulpsame optrede en die feit dat hulle nie naamplaatjies gedra het nie, verder ondersoek sal word.

Oor die swak kommunikasie tussen die dokter en familie  sê Mompati die familie word versoek om self ‘n afspraak maak met die dokters wat die pasiënt behandel.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button