Die DA het ‘n bloedneus van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) gekry toe hulle tydens die tussenverkiesing in Schweizer-Reneke Wyk 9 aan die VF Plus moes afstaan.
Die verkiesing van nuwe raadslewe vir die Mamusa munisipaliteit in Schweizer-Reneke het Woensdag (15 Januarie) plaasgevind nadat die Noordwes-regering verlede jaar in Oktober aangekondig het die munisipale raad moet ontbind omdat hulle administrasie misluk het.
Wyk 9 is die derde wyk wat die VF Plus die afgelope ses maande in Noordwes van die DA verower het. Die VF Plus se aantal stemme het sedert die 2016-munisipale verksiesing met 87,5% gestyg, terwyl die DA 65% van sy stemme verloor het.
Joe McGluwa, leier van die DA in die Noordwes-provinsie, erken dat die voorval waarin ‘n Graad-R onderwysseres verlede jaar geskors is, weens beweerde rassistiese optrede, wel ‘n invloed gehad het in die DA se swak prestasie tydens die verkiesing.
Elana Barkhuizen het met die heropening van die skole, ‘n foto geneem van ‘n klaskamer by haar skool waar die wit en swart leerlinge apart gesit het. Luyolo Mphithi, DA jeugleier, het destyds die foto getwiet en dit as rassisties afgemaak. Die twiet het impliseer dat die skool die leerlinge op grond van ras skei en het later tot rassespanning aanleiding gegee. Dit het later geblyk dat die swart kinders geskei was, omdat daar met hulle in Tswana gekommunikeer was totdat hulle later Afrikaans beter verstaan.



