Hoër Volkskool-leerder sterf tragies in motorfietsongeluk
Die ongeluk het omstreeks Vrydagaand op die Viljoenskroon-pad, sowat 3 km buite Potchefstroom, tussen ’n bakkie en ’n motorfiets plaasgevind.
Die Volkie-gemeenskap is in rou gedompel nadat Hugo Nolte, ’n Graad 11-leerder van Hoër Volkskool Potchefstroom, Vrydagaand (16 Oktober) in ’n tragiese motorfietsongeluk buite Potchefstroom dood is.
Die ongeluk het omstreeks Vrydagaand op die Viljoenskroon-pad, sowat 3 km buite Potchefstroom, tussen ’n bakkie en ’n motorfiets plaasgevind.
ER24 en Mooirivier Beskerming se mediese personeel is na die toneel ontbied. Volgens inligting is een persoon lig beseer, terwyl Hugo op die toneel aan sy beserings beswyk het.
Die nuus van Hugo se skielike dood het groot hartseer by Hoër Volkskool en onder diegene wat hom geken en liefgehad het, gelaat.
Die skool het sy medelye met Hugo se familie, vriende en almal wat deur sy dood geraak is, uitgespreek.
“Met groot hartseer en skok deel ons mee dat Hugo Nolte, een van ons Graad 11-leerders, gisteraand tragies in ’n motorfietsongeluk oorlede is,” lui die skool se boodskap.
Hoewel die verlies moeilik is om te verstaan, hou die skool vas aan hul geloof dat God steeds in beheer is en mense ook in tye van diepe hartseer in Sy hande dra.

“Ons innige meegevoel gaan uit na die Nolte-familie, Hugo se vriende en almal wat hom geken en liefgehad het. Mag julle troos, krag en vrede vind in die dae wat voorlê.
“Ons dra julle op in ons gebede.”
Die skool het hul boodskap afgesluit met die woorde uit Psalm 34:19: “Die Here is naby die gebrokenes van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.”
Vir Hugo se familie en vriende lê daar nou ’n moeilike pad van afskeid en verlies voor. In ’n oomblik is ’n jong lewe beëindig en bly geliefdes agter met herinneringe, onbeantwoorde vrae en ’n leemte wat nie maklik gevul sal word nie.
Die Herald toon medelye aan die Nolte-familie, Hugo se vriende en die hele Hoër Volkskool-gemeenskap in hierdie hartseer tyd.



